Ek groei geestelik, hy nie …

Ek groei geestelik, hy nie …

Jy wil kerk toe gaan, maar jou man wil eerder sy koerant lees.

Ek groei geestelik, hy nie … – SARIE tydskrif Desember 2008
Jy wil kerk toe gaan, maar jou man wil eerder sy koerant lees.

PROBLEEM
Ek is vroeg in my veertigs. Ek het onlangs ’n geestelike verdieping ondergaan, veral omdat dit my deur moeilike tye help. Ek het al hoe meer ’n behoefte aan gebed en die wete dat ’n Hoër Hand in beheer is. My man is glad nie geestelik ingestel nie. Hy is meer prakties en wil altyd in beheer voel. Ek kan nie met hom gesels oor my geestelike behoeftes nie. Dit voel asof ons uitmekaar dryf. Sondae sit hy en koerant lees, terwyl ek kerk toe wil gaan of net iewers op ’n kerklike vlak inskakel. Dis nie ’n goeie voorbeeld vir ons twee laerskoolkinders nie. Wat kan ek doen?

Ronell Bezuidenhout, leraar van die Fontainebleau NG Gemeenskapskerk, Johannesburg
En hoekom sál hy wil kerk toe gaan? Dis mos nie hy wat geestelik verdiep het nie. Identifiseer jou man se geloofstipe. Die “verstand”-gelowige bestudeer graag die Bybel en hou van intelligente preke en redenasies. Die “hart”-gelowige wil graag naby aan Jesus “voel” en skroom nie om met hande in die lug te sing nie. Die “mistieke” gelowige soek stilte op, mediteer en skryf gedigte oor hoe hy God in die sonsondergang sien. En vierdens is daar die “hand”-gelowige wat prakties wil wees en dinge dóén, soos huise bou vir armes. Jy beskryf jou man as prakties: Vind by die kerk uit waar julle as gesin prakties kan help. Dalk moet julle ook eers net lekker sosiale kerkgeleenthede bywoon. Só sal jou man (gelowige) mans by sy vriendekring betrek. Vergeet ook van “keGroei Geestelikrk-taal”. Dis nie jóú werk om iemand tot bekering te bring nie, maar die Heilige Gees s’n. En wees geduldig. Daar is talle getuienisse van mans wie se geloofsvlam deur ’n gelowige vrou aangeblaas is.

Elmari Craig, berader van Pretoria
Ek ondervind ál meer by mense ’n spirituele ontwaking. Veral vroue in hul veertigerjare: Jy het dan meer lewenswysheid en insig en dikwels ook meer tyd vir jouself. As jy stil word (mediteer/bid/diep asemhaal) ervaar jy emosionele genesing en spirituele groei. Die vraag ontstaan dan: Waaroor gaan die lewe regtig? Hoe kry ek sin in my lewe? Mans ervaar gewoonlik eers later só ’n verdieping, tensy hulle trauma soos siekte of ’n geliefde se sterfte beleef. Dit beteken dus dat jul spirituele behoeftes kan verskil. Dit help nie jy probeer hom dwing om jou siening te deel nie. Bid en lees saam met jou kinders uit die Bybel en gaan saam kerk toe. Glo en bid, God sal vir die res sorg. Vra jouself ook af hoekom dit vir jou só belangrik is dat jou man jou godsdienstige perspektief moet deel. Jy moet doen wat vir jóú vervulling gee en jou gelukkig maak. Jy is nie vir hom verantwoordelik nie. Dink daaroor of jy nie deur spiritualiteit sekere leemtes in jou lewe probeer vul nie, soos eensaamheid of ’n gevoel van “ek is nie goed genoeg nie”.Dis belangrik om oral in jou lewe na balans te streef.

James de Villiers, sielkundige van Kaapstad
In jou middel-dertigs begin die sielkunde van tyd ’n nuwe rol speel. Jou toekoms word ál korter – en jou verlede langer. Dít raak ook jou spiritualiteit en soeke na betekenis. Onthou net, dis ’n baie persoonlike ervaring. Jóú groei is nie afhanklik van jou man, kinders of vriendinne se reaksies nie. Daarom hoef jy ook nie angstig te raak oor jou man se gedrag en dit te probeer verander nie. Fokus op jou eie stilwees voor God. Stel jou oop vir die Gees se werking in en deur jou. Die verandering in jou sal outomaties ’n positiewe uitwerking op jou man hê – mits die intimiteit tussen julle nog altyd taamlik goed was. Dan sal julle ook jul verskillende spirituele ervarings wedersyds respekteer. Is die teenoorgestelde waar en die intimiteit tussen julle was nog nooit waffers nie, moet jy nóg minder druk op hom sit.Probeer dan eerder om as gesin gereeld saam pret te hê. Dit sal ook help om jou man nie bedreig te laat voel deur jou vriendskappe nie. Liefde en respek (ten spyte van verskille) skep ruimte; vrees wil kompeteer en beheer. As julle twee mekaar wedersyds respekteer, skep dit ’n ruimte waarbinne jul kinders God op hul eie manier kan leer ken.

Kontak
Elmari by               012 807 2755
Ronell by               011 796 6800
James by               021 559 6400

Met erkenning aan die SARIE tydskrif.