My lewe is saai

My lewe is saai

My lewe is saai – SARIE tydskrif Februarie 2009

PROBLEEM
Ek is verveeld. Met my werk, my huwelik, myself. My ma sê ek moet kyk na mense om my wat niks het nie, en dan weer gaan dink oor my verveling. Hoe kom ek uit hierdie gat van onvergenoegdheid?Saai

Elmarié du Plessis, kliniese sielkundige van Durbanville, Kaapstad, antwoord:
Ek wonder hoe lank jy al so voel en of dit geleidelik posgevat het. Wat is die impak hiervan op jou lewe? Wil jy dit werklik verander? Soms is daar veiligheid in die bekende, maar dís dan juis die probleem, daar is niks vars of nuuts of opwindends nie. Miskien is jy depressief en het jou onvergenoegdheid te doen daarmee dat dinge waaruit jy normaalweg plesier geput het, hul bekoring verloor het. ’n Depressiewe mens het geen motivering om enigiets te doen nie en raak maklik geïrriteerd. As jy ook probleme ondervind met jou slaap en eetpatrone, as jou gewig wissel, jy sukkel om te konsentreer en jy meer huilerig of skuldig voel as normaalweg, moet jy ’n professionele mening kry. Onthou, depressie is ’n behandelbare siekte en dis nie net ’n kwessie van jouself “regruk”en “positief dink” nie, selfs al is dit (oningeligte) mense se goedbedoelde raad.

Of jy is dalk in jou middeljare en in ’n ontwikkelingsfase waar dit belangrik is om te voel dat jou lewe sinvol is en dat jy jouself en mense rondom jou verryk. Erik Erikson, ’n Deens-Amerikaanse ontwikkelingspsigoloog, beskryf hierdie fase as die voortdurende konflik tussen ’n gevoel van “generatiwiteit” (om iets te skep) teenoor stagnasie en selfbeheptheid. Jy kyk na die drome wat jy gekoester het. Jy wou ’n goeie man trou en jou eie gesin hê, en dit het jy bereik. In jou loopbaan raak jy elke dag se uitdagings lag-lag baas. Die probleem is dat jy jou lewe evalueer, ontevrede voel en wonder: Maak my lewe werklik ’n verskil?

Jy het dalk vir jare op jou gesin gefokus en het nou skielik die tyd en middele waarvan jy toe net kon droom. Maar jy het nooit gedink oor wat jy graag wil hê nie, nooit werklik eie doelwitte gestel nie. Jy staan reg om aan jou gesin se behoeftes te voldoen, maar hulle het jou insette nie meer so nodig nie. Ook jou huwelik het dalk sy sprankel verloor. Daar is geen opwinding of afwisseling meer nie. Jul gesprekke, saamwees en sekslewe is soos ’n goed uitgewerkte spel. Dis gemaklik, maar so vervelig!

Jy het ’n nuwe strategiese plan vir jou lewe nodig, nuwe drome en doelwitte waaroor jy opgewonde kan raak. Begin deur ’n besluit te neem. Dit impliseer om op te hou kla en te begin doen en werk. Doen iets spontaans, herontdek ou belangstellings of kweek nuwes. Formuleer ’n visie of droom vir elke deel van jou lewe. Bepaal wat jy wil hê versus wat jy nie wil hê nie. Maak jou droom groot en opwindend – die enigste beperking is dit wat jy self daarop plaas. Vir sommige mense werk dit om hul drome met prentjies, woorde en simbole op ’n plakkaat of in ’n plakboek uit te druk. Dis vir hulle ’n uitstekende motivering. Probeer dit.

Wanneer jy eers weet wat jy wil hê, kan jy aktief begin doelwitte stel. Hierna volg aksieplanne met teikendatums wat jou daarby sal uitbring. Ja, dit klink soos projekbestuur, maar dié metode werk in die sakewêreld – waarom nie in jou persoonlike lewe nie? Verskeie studies het bewys mense met ’n lewensplan en doelwitte beleef groter lewensgehalte en sinvolheid op alle terreine. Hoe jy jóú dag vol maak, behoort elke dag ’n tree nader te beteken aan jou drome. Vir party mense kan dit wees om weer te gaan studeer, vir ander om uit hul werk te bedank, vir my ’n nuwe stokperdjie en vir jou dalk om by ’n welsynsprojek betrokke te raak. Wat dit ook al is – dit begin by ’n besluit, doelgerigte aksie en die neem van verantwoordelikheid.

Soms help dit ook om jouself daagliks te herinner om te fokus op wat jy wel het. Maak ’n lysie van alles waarvoor jy dankbaar is. Miskien verras dit jou. Dis nie altyd maklik om hierdie plan alleen te formuleer nie – dalk sal jy die hulp van ’n terapeut of lewensafrigter verwelkom. COMENSA (Coaches and Mentors of South Africa) by www.comensa.org.za of 071 684 4276 is ’n goeie hulpbron. Hoe ook al: Gryp die geleentheid en begin weer leef!

Elmarié du Plessis,               021 975 7834

Met erkenning aan die SARIE tydskrif.