Betesda Projek

Betesda Projek

betesda projek vir gestremdes
[Beth hesda: huis van genade, ‘n reservoir (Gr. kolumbethra, “’n swembad”)]

Betesda-projek

Projekleier: Hans Human (082 549 0518) ([email protected])

 Die Betesda-projek reik uit in die gemeenskap na persone met een of ander beperking/gestremdheid.  Hierdie beperking kan fisies, emosioneel, intellektueel, geestelik of omstandighede wees.  Dit kan permanent of tydelik wees.  Deur by hierdie persone betrokke te raak, hulle persoonlik te leer ken en hulle omstandighede en behoeftes te verstaan, is dit moontlik om Jesus se hande en voete te wees vir hulle.

Die projeklede is altyd betrokke by en gee finansiële hulp aan ’n individu.  Die behoefte van die persoon word baie persoonlik aangepak deur ’n lid van die projekspan.  ’n Verhouding word ontwikkel sodat die persoon altyd vry voel om hulp te vra.  Om hul privaatheid te beskerm, word die aard van die hulp en hul identiteit nie bekend gemaak nie.

Daar is ook persone by die volgende organisasies by wie die projek betrokke is:

Selfsorghuis in Uitzicht vir persone met kwadruplegie. Die projek help inwoners deur noodsaaklike artikels aan te koop, soms ’n luuksheid wat hul lewenskwaliteit verbeter, mediese koste te dek, in ’n spesifieke persoonlike behoefte te voorsien of hulle te vervoer deur die huis se bussie te bestuur.

PerdePret is ’n terapeutiese aktiwiteit met perde. Volwassenes en kinders uit die gemeenskap, soos die blootgestelde kinders van die Durbanville Kinderhuis, neem deel aan PerdePret.  Interaksie met perde word gefasiliteer met die doel om vrees te verander na vertroue.

Die Yarden Children’s Enrichment Centre in Vierlanden is vir kinders met ernstige en diepgaande intellektuele en fisiese gestremdhede. Hierdie kinders ontvang die nodige terapie, algemene versorging en stimulering in ’n veilige omgewing.  Die gewone sentrums vir gestremde kinders is nie vir hulle toeganklik nie weens die graad van hul gestremdheid.

Bykomende fondse vir die projek word verkry deur skenkings van individue en ’n maandelikse boekverkoping en mark by Bergsig-Kerksentrum.

Soli Deo Gloria.