Golden Games

Golden Games

Golden Games

Golden Games

Projekleier:  Rahlene Uys (021 979 2415) (072 103 8852)  ([email protected])

Hierdie projek, wat in die verlede deur Badisa Trio Bellville aangebied is, is saamgestel na aanleiding van ’n behoeftebepaling wat in 2008 deur ’n Badisastudent gedoen is.  Die senior burgers van Morningstar en Fisantekraal het geïsoleerd van die breë gemeenskap gevoel en daar het ’n behoefte aan sosiale interaksie bestaan.  Hieruit het die Golden Games tot stand gekom.

Die VVV-omgeegroep bied sedert 2010 hierdie projek aan.  Aanvanklik is die kerksaal van die VGK Morningstar vir hierdie geleentheid gebruik, maar aangesien die getalle oor die afgelope jare so mooi gegroei het, word dit sedert 2012 in die Bergsig-kerksaal aangebied.  Die verrigtinge begin deur ’n praatjie met ’n geestelike inslag.  Die deelnemers kry ook die geleentheid om met die projeklede te gesels indien daar so ’n behoefte bestaan.  Die oggend gaan grotendeels oor individuele en spanspeletjies wat ieder en elk terdeë geniet.

Speel-speel sosialiseer hulle en terselfdertyd word hulle sintuie, beweeglikheid en lagspiere geoefen.  Een van die hoogtepunte is waar deelnemers – soms individueel, soms in groepsverband – die geleentheid kry om kreatief te wees: hulle ontvang ‘n paar items soos bv. tou, toiletrolletjies, wasgoedpennetjies, gom, pypskoonmakers,versierings, ens. – en daaruit moet hulle ’n gebruiksitem maak.

Daar is altyd ’n opgeleide persoon teenwoordig ingeval mediese behandeling nodig sou wees.

Die deelnemers kry ’n heerlike bord kos en daar word gepoog om aan die einde van die dag ook ‘n geskenkpakkie aan elkeen te gee.

Die doelwit vorentoe is die bewusmaking van hierdie projek binne Bergsig-gemeente sodat die bejaardes van Bergsig en die bejaardes van Morningstar / Fisantekraal nog meer geïntegreerd kan deelneem.