Selfdegeslagverhoudings MEDIAVERKLARING: MODERAMEN Nov 2016

Selfdegeslagverhoudings MEDIAVERKLARING: MODERAMEN Nov 2016

Besluit van die moderatuur van Wes-Kaapland oor SGV-besluit van die Algemene Sinode

Sedert die afgelope buitengewone vergadering van die Algemene Sinode het die moderatuur uit verskeie gemeentes reaksie ontvang wat getuig van onsekerheid, verwarring, woede, hartseer, dankbaarheid en vreugde. Daar word telkemale versoek dat die moderatuur leiding moet gee oor die interpretasie en toepassing van die besluit van die 2016-Algemene Sinode oor die hantering en status van persone wat in selfdegeslagverhoudings is en ook oor ‘n moontlike pad vorentoe.

In ons soeke na ‘n weg vorentoe wil die moderatuur almal in die Sinode van Wes-Kaapland aanmoedig om deel te neem aan ‘n inklusiewe proses waarin ons saam ruimte ontwikkel vir die verskillende standpunte.

Die situasie is tans dat die 2015-besluit oor die posisie van gay lidmate en ampsdraers wat in selfdegeslagverhoudings is, vanweë appèlle om kerkordelik tegniese redes nietig verklaar is. Die 2016-besluit aan die ander kant, het ook ontsteltenis en verdeling in die kerk gebring, omdat dit geïnterpreteer word as ‘n ommekeer van die 2015-besluit. Sommige wat in 2015 bly en dankbaar was, is nou teleurgesteld, terwyl van die wat in 2015 bekommerd en selfs kwaad was, nou verlig is. Ons bevind ons dus in die ongemak van ‘n wipplank situasie wat ernstige implikasies vir die geloofwaardigheid van die kerk het. Baie lidmate en ander mense in die gemeenskap word hierdeur verwar en verloor hulle respek vir die leiding van die kerk. Dit is veral ons gay lidmate en hulle families en vriendekringe wat die diepste hierdeur geraak word.

Dit is teen hierdie tyd duidelik dat daar verskillende sienings en standpunte is en dat ons eerder die fokus behoort te verskuif na die hantering van die diversiteit van standpunte as om mekaar te oortuig of tot ‘n enkelvoudige posisie te probeer dwing. Ons moet as familie van Jesus Christus leer om ruimte te maak vir mekaar en ons gaan dit alleen regkry as ons bereid is om verskillende standpunte te akkommodeer en mekaar se bona fides te aanvaar. Dit is daarom belangrik dat ons mekaar nie verketter nie en ons verbind tot versoenende gesprekke en voortgaande dialoog.

Die moderatuur het die 2016-besluit goed bestudeer en wys graag daarop dat die besluit ruimte vir gemeentes laat om in hulle eie konteks opreg en onderskeidend na die leiding van die Heilige Gees oor die aangeleentheid te soek. Die Algemene Sinode het in die besluit oor selfdegeslagverhoudings verklaar: “om nie standpunte op gelowiges en gemeentes af te dwing waarvan die Gees die gemeentes nie oortuig het nie”. Verder het die Algemene Sinode “bevestig dat kerkrade die reg behou om self te besluit wie in leiersposisies in die gemeentes mag dien”.

Met bogenoemde in gedagte het die moderatuur van die Sinode van Wes-Kaapland besluit om die volgende inisiatiewe te neem:

  1. Die moderatuur is oortuig daarvan dat die beste besluit oor hierdie baie sensitiewe saak binne die veilige pastorale ruimte van die plaaslike gemeente en konteks geskied en daarom moedig ons gemeentes aan om goed hieroor te dink, lidmate te help om geloofsonderskeidend hieroor met die Woord om te gaan en te help om hieroor in gesprek met mekaar te gaan. Ons weet dat talle gemeentes reeds daarin slaag om hierdie ruimtes te skep en ons sal in die voortgaande proses by hulle wil leer.
  2. Die moderatuur versoek die Diensgroep vir Toerusting om, saam met die Sinodale Taakspan vir Leer en Aktuele Sake, gemeentes en ringe hierin te ondersteun deur toepaslike prosesse en strukture in plek te stel.
  3. Die moderatuur beoog om geleenthede te skep om met gay lidmate en die gay gemeenskap gesprekke te voer. Ons is verbind daartoe om nie óór gay lidmate te praat sonder om mét hulle te praat nie. Die moderatuur roep gemeentes en lidmate op om dieselfde te doen en moedig ook kerkrade aan om lidmate en lede van die gemeenskap wat normaalweg nie deel is van ons vergaderings nie, in te nooi en welkom te laat voel om ons met insigte en wysheid oor standpunte en praktyke te bedien.
  4. Die moderatuur onderneem om, na gelang die proses van onderskeiding en dialoog oor hierdie saak in ons gemeentes en ringe ontvou, die moderamen vroeg in 2017 te adviseer ten opsigte van voortgaande kerklike prosesse van onderskeiding.
  5. Ten slotte: Dit is vir ons duidelik dat ons moet voortgaan om oor hierdie saak geloofsonderskeidend na die wil van die Here te soek. Ons moet onsself ook oopstel om van mekaar te leer en mekaar opreg te verstaan. Ons persoonlike persepsies, standpunte en vooroordele mag nooit die grense van ons luisterproses word nie. Kom ons doen die eg Bybelse ding: nooi mekaar uit vir ete, spandeer tyd saam met hulle van wie ons verskil, bid saam, lees saam die Woord, sit saam aan die nagmaalstafel en herinner mekaar aan die onbegrensde genade van die doop. En wanneer ons van mekaar verskil, kom ons doen dit met respek wat ruimte vir mekaar laat. So kan ons bou aan die onderlinge vertroue en die eenheid wat daar in Jesus Christus is.

Die moderatuur van die Sinode van Wes-Kaapland

22 November 2016

Sinode van Wes-Kaapland, Privaat sak X8, Bellville 7535 – [email protected] | [email protected]


PASTORALE BRIEF
‘n Buitengewone vergadering van die Algemene Sinode het van 7-10 November 2016 in Pretoria byeengekom. Die vergadering is deur die Moderamen byeengeroep in reaksie op meer as 130 appèlle, gravamina en beswaarskrifte ingebring teen die selfdegeslagbesluit van 2015.

‘n Appèlliggaam het kort voor die vergadering appèlle teen die selfdegeslagbesluit op tegniese gronde gehandhaaf. Dit beteken dat die 2015-besluit kragtens die uitslag van die appèlproses verval het. Die Sinode moes dus opnuut beleid oor selfdegeslagverhoudinge formuleer.

Esegiël 47:1-12 was deur die week die sinode se fokusteks. In ‘n duister tyd in die geskiedenis van Israel sien die profeet die hoopvolle gesig van ‘n groeiende stroom lewende water wat uit die tempel vloei en genesing, herstel en lewe wat floreer. Die Dooie See word nuut gemaak en langs die stroom groei bome met genesing in hul blare en oorvloedige vrugte.

Hierdie teks het vir afgevaardigdes ‘n hoopvolle droom ontsluit. God is aanwesig en bring lewe en hoop, ten spyte van mense se mislukking en ongehoorsaamheid. “Waar die stroom kom, sal alles lewe”, sê die teks. Esegiël 47 daag gelowiges uit om God se teenwoordigheid en genesing te sien, dit self te ontvang, en as kerk aan die dra daarvan na ander deel te neem.

Ruim geleentheid is aan die opstellers van beswaarskrifte en voorleggings gegee om die vergadering toe te spreek. Die omvang van protes oor die selfdegeslagbesluite van 2015 is helder belig. Daar was ook voorleggings van persone wat die kerk aangemoedig het om ruimte te skep vir haar homoseksuele lidmate.

Na aanleiding van die voorleggings, het die vergadering besluit om oor Skrifgesag, Skrifgebruik en die hantering van die Bybelse boodskap oor seksualiteit na te dink.

Tydens diepgaande gesprekke het ‘n diep verbintenis aan die gesag van die Skrif geblyk. Die NG Kerk het uitstekende besluite oor Skrifgesag en Skrifgebruik, waarin die sinode steeds haar identiteit vind.

Oor die toepassing van die Bybel se gesagvolle boodskap het diversiteit in standpunte geblyk. Vir sommige is die Bybelse boodskap duidelik saamgevat in teksverse wat homoseksualiteit aanspreek. Vir ander is die tema van God se liefde in Jesus Christus deurslaggewend. Die lewe en leer van die vleesgeworde Woord dui vir hulle die koers aan. Die evangelie, God se omgee en insluiting van sondige mense in die kring van genade, gee die deurslag.

Die Algemene Sinode het na lang gesprek besluit die Bybelse boodskap ken net die huwelik as uitdrukking van menslike seksualiteit. Daarom word selfdegeslagverbintenisse nie langer erken nie. Die vergadering het deernis en omgee teenoor homoseksuele persone uitgespreek, en verskoning gevra vir kerklike optrede wat die gelykheid en waardigheid van mense in die gedrang gebring het.

Die vergadering het ook aandag aan die besluite van die appèlkommissie oor die uitbreiding van die belydenisbasis gegee. Dit handel oor die ruimte wat sinodes kry om die Belydenis van Belhar te aanvaar. Hoewel die appèlkommissie die appèlle afgewys het, wil die kerk eers verder oor verband nadink voordat die besluite implementeer word.

Besluite word aan gemeentes deurgegee sodra die notule goedgekeur is.
Saam in Sy diens
Gustav Claassen Algemene Sekretaris – Nederduitse Gereformeerde Kerk