Kuberruim: SA onbeskofste! (Sarie.com)

Kuberruim: SA onbeskofste! (Sarie.com)

15 Augustusus 2017
HIEROOR PRAAT MENSE

Kuberruim: SA onbeskofste!
deur SARIE.com-span

Suid-Afrikaners = die onbeskofte op die kuberruim met 78%.
Suid-Afrikaners is die ongeskikste onder 14 lande wat betrek is by ’n Microsoft-peiling oor digitale hoflikheid. Daar is onder meer gekyk hoe dikwels mense blootgestel is aan ongewenste kontak, seks-tekste, en wie slagoffers van trolle en aanlyn teistering was. Die verskillende lande het ’n persentasie uit 100 gekry. Hoe hoër, hou onbeskofter. SA het die eerste plek beklee met 78%, met Brittanje laaste met 45%.

Internet-trolle, mos ongelukkige siele wat in die kuberruim swerf op soek na iemand om te teister. Nee, die kiem lê dalk ook in my en jou…
“Leer om behoorlik Engels te praat.” “Hou op vals wees.” “Hou op jou neusgate op SuperSport wys.” Net enkele van die gifpos waarmee TV-persoonlikheid en sportaanbieder Elma Smit op sosiale media gekarnuffel word. Anoniem, met fop-profiele en -rekeninge. Zelda, Robin Williams se aktrise-dogter, het ná sy selfdood tydelik vir Twitter en Instagram totsiens gesê. Gedokterde foto’s van sy lyk (dit was eintlik ’n ander man s’n) is aanlyn geplaas met merke aan sy nek. Die sangeres Miley Cyrus loop ’n aanlyn hater trompop. ’n Lelike lesbiër? Eerder ’n interessante een, asseblief! troef sy.

’n Trol. Eens ’n mitiese, boosaardige aardmannetjie wat in donker plekke wegkruip. Vandag? Iemand wat konflik in die kuberruim saai deur boodskappe op sosiale media te plaas wat besonder omstrede of opruiend is, met die enigste bedoeling om ’n emosionele (ontstoke) respons te ontlok, volgens Huffingtonpost.com.

Glanspersoonlikhede loop die meeste deur. Maar ook jý kan ’n teiken wees. Sowat vier uit tien mense is al só geteister, volgens ’n onlangse Pewinternetpeiling (www.pewinternet.org). Baie meer was al getuie daarvan. Ons is geneig om te glo ’n klein, luide groepie moet die skuld daarvoor kry, volgens Business Insider (www.businessinsider.com). Navorsing in die verlede het dikwels op onderhoude met sulke trolle gefokus. Sommige studies het selfs gewys hulle hetsekere persoonlike en biologiese eienskappe, soos sadisme en ’n neiging om oormatig stimulasie te soek. Maar nie alle trolle word so gebore nie. Hulle is dalk gewone mense soos ek en jy, volgens navorsers aan die Stanford-universiteit. Elkeen van ons kan inderdaad beïnvloed word om bitsig in die kuberruim te wees – in opmerkings op CNN.com geanaliseer. Dit, tesame met ’n gekontroleerde aanlyn eksperiment, het twee sleutelfaktore geïdentifiseer wat ’n gunstige klimaat daarvoor skep. Die eerste is jou bui. Is dit sleg, is jy meer geneig om te “trol”. Ons natuurlike ritmes speel ook ’n rol.

Trolle is meer bedrywig laat in die nag, die minste soggens. En sulke gedrag skiet Maandae die hoogte in, die begin van die werksweek. Boonop kan ’n negatiewe bui voortduur, lank ná die voorval wat die sneller was. Jy neem deel aan ’n aanlyn bespreking waar ander mense kwetsend raak. Beweeg jy aan na ’n nieverwante bespreking, is jý meer geneig om gemene aanmerkings te maak. Die tweede faktor is die konteks van ’n bespreking. As dit begin met ’n “trol”-aanmerking, is deelnemers later twee keer meer geneig om ook snedige dinge kwyt te raak. Die aanvanklike kommentare in ’n bespreking skep ’n sterk, blywende presedent vir latere “trol”-gedrag.

Interessant is dat jou bui en die konteks van die bespreking saam ’n baie sterker aanwyser van sulke gedrag was as om sekere mense as trolle te identifiseer. Jou omgewing moet dus eerder geblameer word as enige ingebore eienskap. As aanlyn gesprekke dus in vernederende aanmerkings ontaard, moet nie net vinger na sosiopate gewys word nie. Die skuld lê ook by onsself.
’n Trol is dikwels net iemand soos jy wat ’n slegte dag het, volgens die Stanford-navorsers. Hoe hanteer jy dit? Op haar blog, spice4life.co.za, sê Elma sy gebruik die onderskeie ban/blokkeer/ rapporteer-funksies op Facebook, Twitter en kie gereeld. En: “Moenie reageer nie. Moenie die trol ‘voed’ nie. Dit is waarop hulle floreer.”


Die vraag ontstaan hoe Christene hul gedra in die kuberruim? Dis sekerlik die mees publieke plek waar almal kan aanskou watter gedrag jy openbaar en wat jou voorkeure is. Onthou dat daar ‘n digitale spoor gelaat word van jou as individu en ons moet altyd oordink of dit wat ons publiseer: Wys, Waar en liefdevol is!