Laat ons eerder verantwoordelik bid vir reenval

Laat ons eerder verantwoordelik bid vir reenval

Laat ons eerder verantwoordelik bid vir reënval
Godsdiens Aktueel
Braam Hanekom

Teen dié tyd is dit duidelik dat Kaapstad ’n krisis in die gesig staar. Almal lewer kommentaar, kritiseer en gaar op. Dít terwyl die angstigheid onder inwoners groei. Intussen het ’n hele klompie kerke hande gevat en gevra dat ons op As-Woensdag (14 Februarie) ’n dag van verootmoediging uitroep. Die klokke sal van twaalfuur af lui en gemeentes sal na goeddunke vir gebedsbyeenkomste bymekaar kom.

Ek ondersteun die inisiatief ten volle. Ons kan, mag en moet bid. Tog moet hier ’n versigtige woord van vermaning gerig word. Jakobus 4 sê dat ons nie het nie omdat ons nie bid nie en as ons bid, ons  “verkeerd” bid.  Die verantwoordelike uitleg van die teks vra veel meer as wat die ruimte binne hierdie rubriek toelaat, maar kom ons probeer dit prakties maak.

Mense wat bloot vir reën alleen bid verstaan nie die omvang van die probleem nie. Ons is gekonfronteer met laer as gewone reënval oor ’n tydperk van drie jaar, maar voeg hierby die meer as verdubbeling van die bevolking in die Kaap in die afgelope twee dekades, die gebrek aan beplanning en bestuur, onvanpaste verbruikerspatrone, die gebrek aan hersirkulering van water in die Kaap, die wegvloei van stormwater en fonteinwater, klimaatsverandering en die verandering in die mikroklimaat van Kaapstad as gevolg van menslike faktore en jy besef  die probleem is veel groter. Vir die liewe Heer om dus ons krisis met blote reënwater op te los sal vra dat Kaapstad min of meer in ’n subtropiese streek verander moet word. Ek glo nie dit is ’n “regte” of verantwoordelike gebed nie.

Veel eerder sal daar gebid moet word vir beter beplanning en bestuur. Nie net op owerheidsvlak nie, maar ook by onsself. Ons sal moet bid vir kreatiwiteit en innovasie, die afsterf van ego’s wat gemaak het dat mense nie wou luister nie. Ons sal moet bid dat politici veel moediger besluite neem en les bes sal ons onsself moet verootmoedig. Regdeur die Bybel word klimaat en natuur met ons geestelike reis met God verbind. Ek dink die kollega wat aan my gesê het dat die “droogte” dalk ’n gawe uit die hand van God is, dalk reg is.

Intussen moet ’n ander mite nekomgedraai word. Natuurlik kan ons nie meer loewergroen uitheemse tuine in stand hou nie, maar die ontbossing en ontgroening van die streek moet stop. Veel eerder sal ons juis nou duisende droogtebestande bome moet aanplant. Ek eer elkeen wat tog met afvalwater ’n paar plantjies aan die lewe hou. Dis juis die mens se disrespek vir die natuur wat ons onder andere gebring het waar ons is.

Ek bid en glo dat die Here vir ons en sy skepping nie sal los nie. Ons gaan deur die drif kom, maar laat ons ons op die regte manier verootmoedig.

Dr Hanekom is direkteur van die Sentrum vir Publieke Getuienis