Preekreeks ADVENT 11-25 Nov 2018 & 25 NOV KERSSANGDIENS 19:00

Preekreeks ADVENT 11-25 Nov 2018 & 25 NOV KERSSANGDIENS 19:00

  • Posted In
  • November 2, 2018
  • Durbanville-Bergsig
  • Likes

  • 08:15 - 12:00
  • 2018-11-11 - 2018-11-25

PREEKREEKS ADVENT

11 Nov – Krip

18 Nov – Kruis

25 Nov – Kerk

25 Nov AAND 19:00 KERSSANGDIENS
Die reuk van Kersfees

Ds. Mizelle Prinsloo

DIE REUK VAN KERSFEES …

Geure omring ons gedurig. Dit betower ons … Dit herinner ons … Dit nooi ons … Dit stoot ons af. Ons wêreld is vol reuke en reuke lok ‘n herinnering uit soos niks anders nie. Dit het iets te doen met jou brein se limbiese stelsel wat direk gekoppel is aan jou reuksintuig, met ander woorde, daar is geen filter nie.

Reuke roep ‘n beeld of emosie by ons op. Pierre du Plessis kry dit reg in sy boek: Jesus ruik na mirre en stof … om “… ‘n vars perspektief op Jesus, en op die lewe self …” te skep volgens die bekende teoloog en skrywer Stephan Joubert.

Leonard Sweet, teoloog, kerkhistorikus en skrywer, het iewers tien jaar terug in ‘n werksessie gevra: “Soos wat ruik Jesus?” Hy woon op Orca Eiland in Washington in die VSA. Pierre en Stephan Joubert het by Leonard gaan kuier en by hom geleer om kerse op te steek en wierook te brand, omdat ‘n kerk darem na iets moet ruik …

Die boek verras omdat Jesus in gewone taal beskryf wat elke mens verstaan en mee kan assosieer. Jesus is baie keer so ver en “geestelik” dat dit moeilik is om met Hom te assosieer en om Hom te ken. Pierre het besef dat Jesus ook soos ons na sweet geruik het of na stof, na ‘n dag se stap op ‘n grondpad. Die reuke in Jesus se lewe maak Hom mens. Sy menswees is tog die wonder van die Evangelie.

Ds. Mizelle Prinsloo hanteer die preekreeks ADVENT wat oor drie Sondae 11, 18 & 25 Nov. strek. Op 11 Nov is die tema – Krip, 18 Nov – Kruis en 25 Nov – Kerk. Elke tema het sy eie REUK.

Advent beteken letterlik koms – ons lewe opnuut in die wonder van die menswording van Christus – ons berei ons voor om die Verlosser in ons lewens te verwelkom met vreugde en afwagting – dis nie net ‘n voorbereidingstyd en herinnering aan Christus se eerste koms nie, maar help ons geduldig wag op die Here se wederkoms.

25 Nov se Kerssangdiens is die hoogtepunt van die ADVENT preekreeks met die tema: Die reuk van Kersfees. Ons sing nie net lekker saam tot eer van God nie, maar ons dink ook na oor die konsep van REUK in ons geloof. Israel se godsdiens was byvoorbeeld deurtrek met allerlei geure. Hul geloof was ruikbaar en proebaar.

Het ons vergeet om ons geloof te ruik … en om sommer self ook die regte geloofsgeure af te gee? Ons moedig julle aan om die tyd ANDERS as die wêreld te spandeer en nie opgeneem raak in die dol gejaag nie, maar stil en rustig te raak. Dink anders oor Kersfees.

Jesus se geure van genade, liefde en omgee word op soveel maniere uitgedruk in die Bybel – ons kan Hom inasem deur parfuum, mirre, hout, klip, kruis, stof, sweet, skape, bloed, wyn, kos – noem dit maar die geur kleef aan Jesus vas. Tussendeur leer ons om self die regte geure af te gee – ons begin sommer by die Kerssangdiens en maak dit een van ons voornemens vir 2019.

Jesus nooi almal, letterlik almal om deel te wees van sy etenstafel – selfs vreemdelinge …
Ons almal was al by tye ‘n VREEMDELING … nie ‘n lekker gevoel nie, behalwe as iemand GASVRY optree, wanneer iemand vriendelik met ons begin praat, ons innooi – dis hoe ons naasteliefde uitleef en dit is ‘n sigbare kenmerk dat ons volgelinge van Jesus is.

Die kerk moet soos vreemdelinge ruik – dit is immers een van die min organisasies wat amper uitsluitlik vir die voordeel van nie-lede bestaan. Met God se genade is ons as kerk die lig vir die wêreld – die tussenganger.