GlowKidz GETUIENISWEEK 2019

GlowKidz GETUIENISWEEK 2019

Glowkidz Getuienisweek 2019

Durbanville-Bergsig se kinders het hierdie jaar die geleentheid gehad om Getuienisweek saam met die volwassenes te beleef.  Ons dink partymaal dat die verantwoordelikheid om te getuig en uit te reik grootliks by ons volwassenes lê, maar ‘n “leef-na-buite” houding moet van kleins af aangeleer en vasgelê word.  Glowkidz het gedurende Getuienisweek verskeie van ons gemeente se projekte beleef deur mense wat by dié projekte betrokke is te ontmoet.

Sondagoggend het inwoners van Betesda asook van ons eie gemeente se kinders by ons Glowdiens kom kuier in hul rolstoele.  Kinders het die geleentheid gekry om vrae te vra en die mense beter te leer ken.

Sondagaand het iemand wat met haweloses werk met ons kinders kom gesels oor hoe ons deur Jesus se oë na die mense wat op straat bly kan kyk.  Ons het ook”sorgpakkies” gemaak vir haweloses wat deur ons kerk versprei sal word onder haweloses.

Maandagaand het ons meer geleer van Lesotho en ‘n weeshuis wat ons gemeente daar ondersteun.

Dinsdag het die Durbanville Polisie by ons kom kuier, nog ‘n projek waarby Bergsig nou betrokke is.

Woensdagaand is Thailand aan ons kinders bekend gestel en kon hulle leer dat, hoewel kinders anders as ons lyk en praat, ons steeds baie in gemeen het met hulle.  Ons kan ‘n verskil maak aan hulle deur mense wat daar werk te ondersteun (sien die GGO boekie vir meer inligting oor Thailand en al die ander GGO projekte).

Ons kinders se harte is duidelik aangeraak deur mense in nood en ons beleef ‘n opregte omgee en entoesiasme om te help.  Help ons om hierdie omgee-harte te koester en verder te ontwikkel deur kinders bloot te stel en te betrek by uitreike in ons gemeente.  Daar is baie projekte waarby gesinne betrokke kan raak en saam die vreugde van gee kan ontdek.  Glowkidz is immers kinders wat glo en leef met omgee in ons wêreld!