Nuus 22 Maart – 19 April 2020

Nuus 22 Maart – 19 April 2020

Die week se nuus draai grootliks rakende die NOODTOESTAND wat deur die president afkondig is.
Ons skryf aan die gemeente hoe Durbanville-Bergsig in die tyd dringend aanpassings maak.

Lees gerus die Herderlike Skrywe aan die gemeente.

Herderlike skrywe
18 Maart 2020

Liewe vriende, die hele wêreld het baie vinnig in baie vreemde waters beland met die Coronavirus (Covid-19) en ons almal en die kerk moet dringend aanpassings maak.

Ons jaartema sê: Leef met Waagmoed en Wysheid #24:7!

Ons wil graag met wysheid optree en nie uit vrees nie. Wysheid beteken verantwoordelik, goeie rentmeesters van onsself en ander. Onderskeiding om die regte ding te doen. Waagmoed sê dat ons moedig optree en geloof behou al raak dinge vreemd en selfs ongemaklik.

In lyn met die president se afkondiging van ’n noodtoestand en die verbod op byeenkomste groter as 100 mense moet ons, soos talle ander kerke nuut dink oor ons eredienste in die periode van 22 Maart tot 19 April. Die dagbestuur van die kerkraad het besluit dat ons geen eredienste in die kerkgebou gaan hou waar lidmate dit bywoon nie. Ons gaan volhou met die regstreekse uitsendings (“livestream”) van die eredienste om 09:00 in die genoemde tydperk op ons YouTube kanaal. Daar sal afskrifte van die preke by die kerkkantoor beskikbaar wees vir lidmate wat nie elektroniese geriewe het nie. Die oudio preke sal op die webwerf gelaai word soos gewoonlik. Reeds beplande dope gaan wel voort binne die tydperk met ’n baie beperkte aantal direkte familielede.

Ander gemeentebyeenkomste en uitreike word ook tydelik gestaak. Arno en Stephanie gaan ons jongmense deur hulle selfone bedien. Mizelle en Philip gaan kreatief nadink oor hoe ons Paasfees spesiaal gaan maak vir families met huisgeloof (groot verrassing) en ons gaan die gemeente gereeld op hoogte hou van nuwe verwikkelinge deur ons kommunikasie kanale soos die “live streaming”, e-posse, SMS’e, webwerf en internet kommunikasie, soos WhatsApp, Facebook & Instagram (hou dit asb. dop) Kleingroepe, Bybelstudie en TGIF groepe kan nog steeds bymekaarkom as hulle wil, maar spesiale voorsorg met higiëne en spasies tussen mense moet getref word. Senior lidmate se Bybelstudies, uitstappies en byeenkomste is gekanselleer tot einde April.

Ons wil vir almal baie dankie sê vir julle harde werk met Plaasfees 2020 wat ons ervaar het as ’n groot sukses! Ons wil graag almal aanmoedig om nog steeds in hierdie tyd julle maandelikse dankoffer te gee en Sondae se erediens offergawes deur mediums soos die Snapscan kode of direkte internet betalings. Indien verkies kan kontant in ’n koevert by die kerkkantoor afgelewer word. Dit sal Bergsig in staat stel om in hierdie tyd van krisis aan te hou om “Sy Ligdraers” te wees en te sorg vir die weerloses van ons samelewing.

Paulus sit in die tronk wanneer hy die brief van Fillipense skryf aan die Christene wat vervolging ervaar het: “Aangesien julle die troos in Christus ondervind het, die aansporing deur die liefde, die gemeenskap deur die Gees, die innige meegevoel en meelewing maak dan nou my blydskap volkome deur eensgesind te wees: een in liefde, een van hart, een in strewe. Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander.”

Mag ons in hierdie tyd aanhou om diensbaar te wees aan ander. Kom ons beskerm die belange van ander deur nie te gryp nie, maar te deel en ook met wysheid op te tree. Mag ons aanhou saam aanbid al is dit in ’n nuwe formaat en ook te bid vir die vervolgde kerk wat nog altyd in kleiner groepies moes kerk hou en nog steeds aanhou om te groei. Mag ons uitsien na die eerste Sondag wanneer ons weer in die kerkgebou kan aanbid en dit opnuut waardeer. Onthou om te bel as dit met jou swaar gaan. Al die predikante en personeel is nog steeds aan diens.

Seën, Ds. Johan Els, Ds. Philip, Ds. Mizelle Prinsloo, Dr Kobus de Jager

Kerkkantoor sal normale kantoorure oop wees van 8:00-14:00

BELANGRIKE PRAKTIESE INLIGTING:

www.bergsigdv.co.za – algemene inligting

Facebookalgemene inligting

Instagram – algemene inligting

YouTube om die kerk se regstreekse PREEK uitsendings te volg of vir preke in argief

WhatsApp: Klik op die skakel om deel te word van die kerk se groep vir algemene inligting.

Databasis: Dateer selfoon en e-pos adres op sodat ons gemaklik met jou kan kommunikeer.