Belydenis van die algemene Sinode

Belydenis van die algemene Sinode

  • Posted In Sinode
  • October 14, 2011

Algemene sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk
Birchwood Konferensiesentrum: Vrydag 14 Oktober 2011

Die Luisterspan wat tydens die vergadering van die Algemene Sinode hulle ore fyn ingestel gehad het, het die volgende BELYDENIS in oorleg met die Moderatuur opgestel. Dit verwoord iets van die hart van hierdie besondere vergadering, en is ook tydens die afsluitingsliturgie as belydenis gebruik.

BELYDENIS

Die NG Kerk dank God dat ons in so ‘n uitdagende tyd, binne ‘n Suider-Afrikaanse konteks saam met ander kerke, God se kerk mag wees. Sy liefde en genade is sonder twyfel groot.

Die NG Kerk besef, en het uit die geskiedenis geleer, dat ons net werklik kerk van God kan wees as ons onsself prysgee en Hom volg. Die Drie-enige God stuur ons sy wêreld vol as getuies van sy liefde vir sy hele skepping. Daarom: roep ons gemeentes op tot ‘n lewende verhouding met God waarin ons onsself oopstel om gevorm te word deur die Woord van God sodat ons in afhanklikheid van die Gees biddend gevorm word tot mense met ‘n outentieke leefstyl en ‘n geloofwaardige getuienis.

Reik ons uit na ander geloofsgemeenskappe. Ons bid en werk onverpoos voort aan die organiese en strukturele eenheid binne ons eie familie van kerke. Ons gaan verbintenisse aan met ander kerke van Gereformeerde belydenis en werk graag saam met ander Christelike kerke, en wanneer die omstandighede daarom roep, ook met ander geloofsgemeenskappe. As kerk wil ons ‘n ruim huis wees, sonder die prysgawe van ons Gereformeerde identiteit.

Ly ons onder aanslae en ervaar daagliks hoe ons land getreiter word deur misdaad, geweld en korrupsie. Ons gemeenskappe is arm, werkloosheid is groot en moedeloosheid kenmerk baie van ons jong mense. Ons roep die staat op tot die uitvoering van sy verantwoordelikheid, ook tot die bewaring van ons brose demokrasie. Terselfdertyd verbind ons ons steeds tot die bekamping van sedeloosheid. Ons beloof om in die lig van ons roeping mee te werk aan die vestiging van waardes wat ‘n vreedsame samelewing ‘n werklikheid kan maak en om daadwerklik mee te werk aan die verligting van ellende. Ons erns tov eenheid, versoening en geregtigheid word versterk deur die Belydenis van Belhar as deel van ons belydenisskat by gemeentes aan te beveel. Ons wil alle gemeentelede wat op talle plekke die gemeenskap onbaatsugtig dien omdat hulle hulle roeping as gestuurdes ernstig opneem, vir hulle getrouheid bedank.

Bely ons ons bestaan nie ter wille van onsself nie, en weet ons dat ons die sout en lig vir die wêreld is. Ons is die suurdeeg wat die plig het om die tekstuur van ons samelewing te verander. Hierdie hoë roeping is nie vir ons ‘n las nie, maar ‘n vreugde. Ons is die jeugdige bruid van Christus wat by wyse van ons eredienste, aksies en optredes die toekoms tegemoet dans deur die aantrek van die fyn linne van dade van geregtigheid.

Erken ons ons sondigheid en onvermoë om lief te hê soos wat God wil hê ons moet liefhê. Ons sukkel elke dag daarmee in ons omgang met mekaar. Ouers kry seer, kinders kry seer, gemeenskappe ly en ons integriteit is telkens op die spel. Ons vra hulle wat seerkry onder ons liefdeloosheid om vergifnis. Ons staan nakend voor God.

Mag God sy wil hoe langer hoe meer aan ons openbaar, en ons daagliks nuut maak om soos Hy te lyk, te praat en te dien.

Net die Bybel. Alleen deur genade. Slegs deur geloof . Uitsluitlik Christus. Aan God die eer.