BREI SAAM!

BREI SAAM!

Breihulp gevra!

Nicola Vermeuen van SmartStart skryf soos volg:

HELP ONS BREI AAN BALLE VIR KLEIN HANDJIES!

Terwyl die Kaapse winterkoue ons vingers vries, het die Diensgroep Diaconia aan ‘n wonderlike manier gedink om die bloedtoevoer tot daardie verkluimde vingers te verbeter.  Dit kos min, is maklik om te doen en gee jou nét die verskoning wat jy nodig het om die hele aand voor die kaggel deur te bring.

Soos voorheen berig, is die bevordering van vroeëkindontwikkel via gemeentes, een van Diaconia se fokusareas.  Hul vennootskap met SmartStart vorm deel van daardie inisiatief.  Van die noodsaaklike vaardighede wat ‘n 3 tot 4 jarige kind moet bemeeser sluit in fynspierkoördinasie, oog-handkoördinasie,  sowel as kleur-, vorm- en tekstuurherkenning.  Balspel help in die ontwikkeling van al hierdie vaardighede.  Ons het tans ‘n groot behoefte aan balle vir ons speelgroepies.

Hieronder volg die breipatroon en instruksies om so ‘n bal te maak.  Dit kan van verskillende kleure en groottes wees.  Enige stukkie oorskietwol kan gebruik word en die dikte van die wol en breipenne wat jy gebruik is nie belangrik nie.

Breipatroon vir wolbal  

Benodigdhede:

  1. Oorskietwol van enige kleur of dikte
  2. Enige dikte breipenne
  3. Grootoognaald
  4. Materiaal om bal mee op te stop (ou sykouse, binnekant van kussings, oorskietlap)

Patroonsteek:

  1. Sit 17 steke op (Foto 1)
  2. Brei 48 rye (regs) (Foto 3)
  3. Heg af en los ‘n langerige stuk wol om die bal mee vas te werk (Foto’s 4 en 5)
  4. Ryg die naald deur die steke aan die laangste kant van die gebreide blok, trek styf en heg stewig af. (Foto 7)
  5. Werk ry 1 en ry 48 aanmekaar vas en heg stewig vas (Foto 8).
  6. Gebruik bogenoemde stopmateriaal en stop die bal tot die styf en stabiel voel (Foto 9).
  7. Ryg die naald met oorskietwol deur die twee lang kant en trek styf om die bal te vorm. Eindig af met ‘n dubbelsteek dit stewig te heg (Foto 10).

Indien enige gemeentelid belangstel om ons hiermee te help deur balle te brei of selfs net wol te skenk, kontak Nicola Vermeulen by 021 957 7188 /
071 383 7937; [email protected]