BERGSIG GELOOFSGELOFTE-OFFER PROGRAM

BERGSIG GELOOFSGELOFTE-OFFER PROGRAM

Raak geloofsgelofte-offers my?

“7 As julle in My bly en my woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry. 8 My Vader word juis daardeur verheerlik dat julle baie vrugte dra en my dissipels is.”  (Johannes 15:7 & 8.)

Wat behels geloofsgelofte-offers?

Durbanville-Bergsig strewe daarna om sy visie en missie, asook sy waardes, soos hieronder uiteengesit, met ‘n passie uit te leef, nl.

Visie:

Bergsig verheerlik Jesus Christus, Die Lig vir die Wêreld.

Missie:

Ons is sy Ligdraers wat:

Eensgesind is in geloof en aanbidding

In liefde omsien na die welsyn van ons naaste

Volhard in die uitdra van die Evangelie van hoop.

Waardes:  Dankbaarheid, Diens, Deernis en Respek.

Om dit te kan uitleef, het Bergsig gelowige lidmate nodig wat hulleself beskikbaar stel om deur Jesus Christus gebruik te word as sy verteenwoordigers en ligdraers oor die breë spektrum van bedieninge in Sy Kerk en Koninkryk.  Christus wil ons gebruik as Sy hande en voete en as lampe waardeur Hy wil skyn in ‘n donker wêreld om Sy lig te versprei.

Omdat die taak wêreldwyd so groot is, word vele hulpbronne benodig.  Om aksies in Sy Koninkryk te ondersteun, is beskikbare, gewillige, toegeruste mense sowel as finansies nodig.  Beide hierdie hulpbronne word deur Christus op unieke wyse voorsien.

Finansies word op verskillende maniere voorsien.  Een daarvan is by wyse van Geloofsgelofte-offers wat Sy gelowige kinders aan Hom maak, deur ‘n bedrag aan God te beloof, bo en behalwe hul  begrote uitgawes (wat ook hul  dankoffer en steun aan Christeklike aksies en sake insluit).   Hulle betaal dit maandeliks, of  by wyse van ‘n eenmalige jaarlikse bydrae,  as ‘n geloofsgelofte-offer.  God  wil hê dat ons in geloof ‘n bedrag aan Hom moet bring en Hom dan vertrou om dit vir ons te skenk.  Ons belowe en verbind ons in geloof daartoe nog voordat ons daaroor beskik  en vertrou God om dit dubbeld en dwars te voorsien uit Sy skatkamers.  Hierdie fondse word dan aangewend oor ‘n wye spektrum aksies waardeur ons help om ‘n verskil te maak in die welsyn van ons naaste en die uitdra van die Evangelie van hoop.

Bergsig se lidmate het nou al sedert 1997 die geleentheid  om bydraes by wyse van Geloofsgelofte-offers te maak.  Ons loof die Here vir ‘n pragtige groeitendens  in die totale geloofsgeloftebedrag wat jaarliks bygedra word sedert die instelling daarvan in 1997.  Dit het die R1miljoen-merk per jaar bereik.  Ons gebed is dat die groep lidmate wat reeds jaarliks deelneem met die bydrae van hulle Geloofsgelofte-offers,  daarmee sal voortgaan omdat hulle eerstehandse ervaring opgedoen het oor hoe God mildelik voorsien en getrou aan ons bly.  Ons vertrou dat God ook elke jaar nuwe Geloofsgelofte-offer-donateurs sal byvoeg by hierdie groep gelowige kinders van Hom.  Daardeur bewys ons dat ons Hom vertrou en verheerlik nog voordat ons oor die fondse beskik.

Indien u dit moeilik vind om so ‘n geloofsgelofte-offer-belofte aan God te maak – begin klein – beloof en gee slegs ‘n relatief klein eenmalige of maandelikse bedrag en toets God of Hy dit nie veelvuldig aan u sal teruggee of in u koffers sal stort nie.  Vermeerder dan jaarliks hierdie geloofsgelofte-offer soos u geloof groei en toets God daarmee.  Hy sal vir u geloofsgroei laat ervaar terwyl u uself  tot Sy diens stel.  Moenie afsydig staan omdat u mag oordeel dat ‘n relatiewe klein bydrae nie eitlik ‘n verskil sal maak nie.  Elke rand maak ‘n verskil in God se Koninkryk.  Dié God wat die twee vissies en vyf broodjies vermenigvuldig het, wil ook dit wat ons vir Hom beskikbaar het, vermenigvuldig.  Kom wees deel daarvan en ervaar God se seën!

Lees gerus verder oor ‘n wye spektrum uitreik-projekte en instansies wat deur Durbanville-Bergsig finansieel ondersteun word.  Bestudeer dit biddend en laat God u lei en oortuig hoeveel en waartoe u kan bydra en begin daarmee en verbind u daartoe.

Baie hartlik dankie vir die getroue wyse waarvolgens elke donateur sy / haar  geloofsgelofte nagekom het.

Die meeste Bergsig GGO-bydraers maak hulle bydraes op ‘n maandelikse basis van wie die groot meerderheid ook al vir baie jare ononderbroke daarmee voortgaan. Ons neem die vrymoedigheid om u  te versoek om u uself weereens te verbind tot ‘n voortgesette betrokkenheid by Bergsig se GGO-projek. By voorbaat hartlik dankie.

Ons  opregte dank en alle  eer aan ons  Hemelse Vader  wat hierdie projek op so ‘n wonderlike wyse jaarliks in stand hou en laat groei en aldus ook Bergsig inskakel by Sy koninkrykswerk.

Ons begin Augustus met die nuwe siklus van insameling.