D4J sentrum vir HOOP

D4J sentrum vir HOOP

D4J sentrum vir HOOP Dit is al byna 20 jaar wat die gemeenskap van Durbanville vir die hawelose mense op ons strate kos verskaf deur middel van die sopkombuis. Met ons destydse Jesus Can projek en huis, het Lee Sives en haar span ongeveer 30 mense deur die jare vanaf die strate gerehabiliteer en terugbesorg in die gemeenskap of terugbesorg by hulle families.

Meer onlangs het die kerke besluit om hande te vat met MES, wat al ongeveer 8 jaar werksaam is met straatmense in Bellville en Parow.

MES se leuse is “change the heart of the city”. Hulle werk hoofsaaklik deur uitreike, maatskaplike hulp, geestelike insette, die GROW (job rehabilitation) program, arbeidsterapie, hulp uit met behuising (Shelters) en ook opleiding met die beoogde plasing in werk.

Om vir iemand op straat iets te gee om te eet, is die mees basiese wat ons kan doen. Ten einde hulle menswaardigheid te herstel, skakel MES hulle dan in by die GROW program. Hulle sal strate vee, onkruid verwyder, motors oppas, pamflette versprei, ens. Hulle kry ’n klein daaglikse toelaag vir hierdie werk, sodat hulle vir hulself kos en die nodigste kan koop. Hulle word verder gehelp om ID’s te kry.

MES werk  nou in vennootskap met die D4J kerke in Durbanville. Hulle help met die maatskaplike dienste en die GROW program in Durbanville. Ons straatmense is gewoond om die sop gratis te kry, en ons inwoners van Durbanville gee ook nog baie maklik geld vir persone wat bedel. Daarom skakel straatmense nie so goed in by die programme van MES nie. Hulle kry nog alles verniet en het nie nodig om ’n teenprestasie te lewer nie.

Ander voorstede het begin om die koeponstelsel te implementer. Dit impliseer dat ’n persoon wat by die sopkombuis opdaag, of ’n sopkoepon moet hê, óf R5, of in geval van absolute nood kan die maatskaplike werkers ook help.

Ons sopkombuis het oorgeskakel na hierdie metode.

Die projek vorm ook deel van die Stad se “Gee Verantwoordelik Veldtog”.

Indien u ’n boekie met koepons koop, kan u die koepon gee vir enige straatpersoon wat bedel, ook persone by robotte. Daar staan geskryf in die boekie waar hulle oral kan sop kry. U kan ook boekies koop en vir die maatskaplike werker van MES gee, sodat sy honger persone in nood van ’n koepon kan voorsien as sy met hulle ’n gesprek gehad het.

Een koepon kos R5 en ’n boekie kos R50. U kan dit in u motor hou, en uitdeel soos persone u nader vir geld. Alle wins wat gemaak word met die boekies, word weer teruggeploeg in die dienslewering aan ons eie mense op straat. Koop gerus u boekie by Bergsig kerkkantoor of by die Green Grocer.

Enige iemand wat wil betrokke raak by die sopkombuis kan gerus die kerkkantoor bel.