EMOSIES EN GEDAGTES

EMOSIES EN GEDAGTES

  • Posted In Jeug
  • January 10, 2019

Een van die beste geskenke wat ’n ouer aan sy kind kan gee, is om hom of haar te leer wat die verskil tussen ’n emosie en ’n gedagte of opinie is.

Jy het seker al dikwels die uitdrukking gehoor: “Ek het gevoel ek is nie goed genoeg nie.” ’n Man, kom ons noem hom Willem, het my vertel hoe hy as jong seuntjie gehoor het hoe sy pa vir sy oom vertel dat hy (Willem) nie so slim soos sy broer is nie en dat dit ’n wonderwerk sal wees as hy matiek slaag. Toe ek hom vra wat hy gevoel het, was sy  antwoord, “Ek het gevoel ek is nie goed genoeg vir my pa nie.”

Mens voel nie jy’s nie goed genoeg nie, jy dink so. Die emosie is iets anders, miskien minderwaardig, verwerp, hartseer of geskok in Willem se geval.

Die oomblik wanneer die opinie “Ek is nie goed genoeg nie” aan die emosies van minderwaardigheid, verwerping of hartseer gekoppel word, bestaan hulle van daardie oomblik af saam. Wanneer Willem in enige ander situasie, met sy pa of enige iemand anders, weer so voel, versterk die gedagte onbewustelik dat hy nie goed genoeg is nie.

En dan lei gedagtes tot gedrag. As Willem dink dat hy nie goed genoeg vir sy pa is nie, beïnvloed dit sy gedrag teenoor sy pa direk. Hy gaan homself óf probeer bewys teenoor sy pa om sy pa se goedkeuring te “verdien” óf hy gaan later rebels raak en net nie meer omgee wat sy pa van hom sê of dink nie. Willem het later baie goed op skool en universiteit presteer. Vandag werk hy vir homself en is baie suksesvol.

Hy respekteer sy pa as pa, maar dis waar dit eindig. Hulle het baie min kontak. Maar in enige ander situasie waar Willem se kennis of optrede bevraagteken word, kan hy volgens homself baie kortaf met mense raak.

Jong kinders maak nie maklik onderskeid tussen emosies en gedagtes nie. As ma of pa baie kwaad raak oor iets wat die kind verkeerd doen of ’n baie negatiewe opinie oor die kind uitspreek, besef die kind iets is verkeerd en soek ’n oorsaak. Omdat die kind afhanklik is van die volwassene en liefde wil gee en ontvang, soek hy fout by homself (en later by sy ouer) en vorm ’n negatiewe opinie oor homself en/of sy ouer.

As die ouer oor en oor dieselfde negatiewe opinie uitspreek of teenoor die kind oorreageer, word die opinie al sterker en die kind se gedrag vorm ’n patroon.

Niemand wil natuurlik negatiewe emosies ervaar nie en dis in die aard van die mens om dadelik iets te wil doen om dit te vermy of regmaak.

Maar dan moet die oorsaak natuurlik – so dink die mens – eers gevind word om die oplossing te vind. Kyk maar na Adam en Eva. Die oomblik dat hulle bang voel (vir straf en verwerping), soek hulle ’n oorsaak. Dis die vrou se skuld. Dis God se skuld. Dis die slang se skuld. En so maak ouers en kinders ook maar vandag. As ons bang is, soek ons die oorsaak by onsself, by ons ouers, by ons kinders en vorm opinies van mekaar en behandel mekaar dan ook dienooreenkomstig. En so word intimiteit versteur. Emosies is nie reg of verkeerd nie. Dis deel van die lewe. Dis nie nodig om dit ten alle koste te wil vermy of ontken nie. Dis juis die onderdrukking van vrees wat later lei tot ’n oordrewe fokus op reg en verkeerd en opinies van mekaar wat groter verwydering bring. Jy doen jou kind ’n guns as jy hom kan help om te verwoord wat hy voel. Maar jy doen jou kind ’n nog groter guns as jy sy emosies toelaat en aanvaar.

Maar dan veronderstel dit natuurlik dat ek as ouer ook sensitief is vir my eie emosies en opinies. As ek kwaad is vir my kind beteken dit nie dat my kind die oorsaak is nie. Dit beteken ook nie dat ek myself moet blameer nie. Verbaliseer eerder jou frustrasie of kwaad sonder om te blameer.

*James de Villiers*