Die lewe en die Heilige Gees

Die lewe en die Heilige Gees

Die lewe het nie ‘n “rewind”-knoppie nie!   Mens kan dit nie vasvat nie net so is ons begrip van die Heilige Gees se werking in ons lewens.

HIERDIE HET EK OOR E-POS ONTVANG. Ons gee erkenning aan die oorspronklike skrywer.

Die lewe het nie ‘n “rewind”-knoppie nie!
“Jy mag maar jou koffie slurp of in jou piering gooiHeiligegees
Jy mag met vuil voete uit die komposhoop oor ons wit mat loop
Jy mag jou naels byt
vals sing
swak groente huis toe bring
die badkamer omkrap
die nat vloer opdroog met my waslap…
Jy mag maar snags hard snork
oor koue voete brom
As jy net terug kan kom”

So lees Hester Heese se bekende gedig. Ja, hoeveel van ons het al gewens dat die lewe ‘n “rewind” knoppie het. Dat ons kans kan kry om óór te leef: Om terug te gaan op ons spore en dinge ánders te doen. Dan kon ons dalk meer begrip toon, meer geduld hê en met groter deernis optree. Ons kon dan meer aanvaar, minder kritiseer, meer luister, minder praat, meer omgee en minder ongenaakbaar wees… Dan kon ons ons lewensspel oor speel, beter verhoudings bou en meer liefhê.

Maar nou weet ons: die lewe is toe nié ‘n kleedrepetisie nie. Ons is nóú reeds besig met die finale verhoogstuk van ons lewens. Dis ‘n wakker-skrik-gedagte wanneer ons besef dat ons ook in ons verhoudingslewe besig is met die finale spel. En vir ons almal is gister vir altyd verby… en môre ons dalk nie beskore nie. Tóg het ons vandág! Hierdie dag is aan ons gegee sodat ons positiewe deposito’s kan maak in die lewens van hulle wat aan ons geleen is. Daarom kan ons kies om — ongeag al ons onperfekte gisters — ‘n groter rol in die liefde tussen mense te speel. Ons kan dit doen deur:

Minder te veroordeel en ander met groter onvoorwaardelikheid te aanvaar. Ja, ons kan dit doen deur lief te wees vir die ander vir wie en wat hulle ís. Nie vir wat ons nog van hulle wil máák nie;

Minder krities te wees oor die kléín, onbelangrike dingetjies en meer ingestel te wees op die groot dinge wat wél reg, goed en bewonderingswaardig is;

Minder selfsugtig en selfgesentreerd te wees en ander se belange hoër as ons eie te stel;

Minder geïrriteerd en ongeduldig te wees en te bid vir ‘n hart vol sagmoedigheid, nederigheid en geduld; en

Minder humeurig, opvlieënd en haatdraend te wees omdat ons diep onder die besef is van God se sagte liefde en onverdiende genade in óns lewens.

Daar is maar één manier hoe ons dit kan regkry om al hierdie dinge te doen en dit is om konstant onder die leiding van die Heilige Gees te leef. Slegs wanneer ons onder sy beheer staan, is ons in staat om die soort liefde te leef wat ‘n positiewe verskil aan mense se lewens maak. Want daar waar die Gees is, trek die liefde en al sy wonderlike vrugte, saam. En waar Hy en sy positiewe hartsvrugte hul intrek geneem het, hoor, voel, sien en beleef mense iets ánders by ons. Hulle ervaar iets in ons teenwoordigheid wat hul lewens verryk, betekenis daaraan gee en hulle goed laat voel.

Om konstant as Gees-vervulde mens te leef, is vir ons as feilbare mense nie maklik nie. Dit bly ‘n proses van val en opstaan, van droogmaak en weer probeer, van foute maak en dit regstel en van weer en weer die liefde kies. Dis om elke oggend te besef dat jy self nie in staat is om die liefde te leef nie, maar te wéét dat jy dit onder die leiding van die Gees kán doen. En juis omdat ons so maklik van spoor af raak, vereis dit meer as net die een-keer-‘n-dag-gebed. Dit vra dat ons deurentyd die Gees in ons lewens sal innooi en bid:

Gees van God, ek is swak in die liefde. Maak U my sterk. Ek is feilbaar in die manier hoe ek mense hanteer. Ek is soms juis ál die dinge wat ek níé moet wees nie. Vergewe my en maak my dan ánders, Here! Programmeer my gedagtes sodat ek die regte taal sal praat en die liefde spontaan sal dóén.

Kom ons stel onsself ten doel om in die komende maand die volgende Gees-vrugte werklik te lééf: Maar as die Gees ons lewe beheer, is die gevolg: liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing… Galasiërs 5:22. Kom ons bly dié maand op ons knieë en verklaar elke dag ons afhanklikheid en gewilligheid om as nuwe mense onder die bestuur van die Gees te leef. Dan sal “rewind”-knoppies mos onnodig wees!

Here, ek erken dat ek dikwels nie soos  ‘n Gees-vervulde mens lyk nie
omdat ek hardkoppig my eie pad loop en  sonder u leiding probeer leef.
Dis dan wanneer ek skaam is oor die manier hoe ek dink, praat en optree…
Vergewe my daarvoor asseblief.
Vandag kniel ek met groot ontvanklikheid voor U en vra dat U my teen my self sal beskerm!
Vul asseblief die huis van my hart van hoek tot kant met u waarheid, u wysheid en u volmaakte liefde.
Help my om die groot genade wat U aan my betoon mildelik oor ander te sprei en
om die onvoorwaardelike liefde wat U vir my het in oormaat aan ander uit te deel
Leer my om elke dag die mense om my met liefde, vergifnis en deernis te koester…
selfs al sou hulle met vuil voete oor my hart loop, my lewe omkrap,
oor onnodige goed brom… en hul lewens vals sing!
Amen

Onthou Albert Einstein se woorde dat nie alles wat getel kan word, tel nie. En nie alles wat tel, getel kan word nie. Gaan leef die maand vir die dinge wat regtig tel…