Drinkery ‘jonk geleer’

Drinkery ‘jonk geleer’

In die Burger Koerant van vandag lees ons oor drinkery op ‘n jong ouderdom en wat dit volgens navorsing moontlik kan aanwakker.  Lees gerus meer oor die interessante onderwerp.

Drinkery ‘jonk geleer’ – Die Burger Koerant
11/06/2009 09:23:57 PM – (SA)
Johannesburg. – Dit is onwaar dat ouers wat hul kinders verbied om alkohol te drink ’n aanloklike “verbode vrug” van drank maak en hul kinders aanmoedig om hulle in later jare aan drank te vergryp.

’n Studie onder studente in die VSA het gewys dié wie se ouers hulle as kinders verbied het om te drink, was minder geneig as die res om hulle soms dronk te drink.

Luidens ’n mediaverklaring deur EurekAlert! het me. Caitlin Abar, ’n finalejaarstudent in menslike ontwikkeling en familiestudies,

Drinkery

’n studie onder 300 studente gedoen. Sy het hulle uitgevra oor hul drinkgedrag en oor die mate waarin hul ouers hulle as minderjariges toegelaat het om te drink.

Sowat die helfte van die studente is nooit as kinders toegelaat om te drink nie. Hulle was baie minder geneig om hulle aan drank te vergryp.

Hoe meer drankies ouers vir hul kinders toegelaat het, hoe meer was hulle geneig tot vergrype in hul studentejare.

Die ouers se eie drinkgewoontes het min invloed gehad op die kinders se latere neiging om hulle te vergryp.

Abar het gesê dit is voorlopige bevindings en meer navorsing is nodig. Sy het byvoorbeeld nie onderskei tussen kinders wat saam met hul ouers aan tafel drink en dié wat toegelaat is om in en buite die huis, byvoorbeeld op partytjies, te drink nie.

’n Studie in 2004 in Noord-Carolina het gewys tieners wat by hul ouers drank vir partytjies gekry het, was drie keer meer geneig as hul maats om hulle binne die volgende maand aan drank te vergryp. Dié wat net toegelaat is om saam met hul ouers aan tafel te drink, was minder geneig tot drankvergryp.

Navorsers meen die konteks waarin kinders drink, speel dus ’n groot rol.

Hulle vermoed ouers wat hul kinders verbied om te drink, bied dalk ook in ander opsigte meer struktuur aan hul kinders.

Die vereniging vir verantwoordelike alkoholgebruik in Suid-Afrika waarsku ouers ook om sterk gesinsbande met hul kinders te smee.

Dit behels gereelde gesinsaktiwiteite, oop kommunikasie en buigsame reëls.
Met erkenning aan die Burger Koerant.