Ons storie

Sy ligdraers stap ’n pad en bou bruê!

Bergsig dissipels stap al ’n amptelike pad van 1982 af, toe ons van Moedergemeente afgestig het om die nuwe uitbreidings wat gebou is in die sewentiger- en tagtigerjare te bedien. Met die stigting van Durbanville-Bergsig het die Here nog ’n “stad op die berg” tot stand gebring en nog “’n lamp op ’n staander” in die Koeberg-kontrei geplaas. Matt. 5 : 14-16

Ons gemeente het deur baie eras en fases gegaan en saam met die wêreldpas ontwikkel dag-vir-dag. Die destydse slagspreuk van die gemeente: “Wie gered is, is geroep” dui op ’n duidelike ingesteldheid dat as dissipels gaan ons voortdurend saai. Die grond is voorberei soos ons die pad gestap het. Ons is DANKBAAR vir al die gelowiges voor ons wat op die lang pad gesaai het. Party het uitreikprojekte bestuur, party het hulle bure bygestaan en ondersteun, party het DEERNIS getoon aan siekes in die hospitaal, party het seniors by ouetehuise se dae opgevrolik.

As gemeente onderskryf ons steeds ons gereformeerde erfenis en reformatoriese beginsels (skrif-gebondenheid) met RESPEK.
Van 1997 tot 2013 is Bergsig deur ’n transformasieproses, as’t ware die waterskeidingsjare. Mens kan dit amper ’n oorgang noem van ’n ou na ’n nuwe wêreld. Die brug wat gebou is om die nuwe wêreld aan te pak.

In 2005 en 2006 is die visie, missie en slagspreuk van die gemeente herformuleer tot hoe ons dit vandag ken.

Die visie:
“Bergsig verheerlik Jesus Christus, die Lig vir die wêreld.”

Die missie:
Ons is sy Ligdraers wat:
Eensgesind is in geloof en aanbidding
In liefde omsien na die welsyn van ons naaste
Volhard in die uitdra van die Evangelie van Hoop.

Die gemeentelogo is verfyn in 2007 en die slagspreuk wat in 2005 geformuleer is “Sy ligdraers”, word oral gekommunikeer. Dit bring ons terug by 1982 toe nog “’n lamp op ’n staander” gesit is om ’n lig vir die wêreld te wees. Matt 5 : 14-16

Van 2010 tot 2013 is die omgewing waarin ons leef (naby en ver) weer van voor af verken, drywers van verandering en sleutel-kwessies is in berekening gebring. ’n Oorhoofse behoeftebepaling is in die NGK gedoen (kerkspieël), kernwaardes is ontwikkel. Kernwaardes kan omskryf word as spesifieke waardes wat aan ons gemeente ’n raamwerk bied van die manier waarop ons dinge doen binne en buite ons gemeente. Dit dien as riglyne in die proses van gemeentegroei en ontwikkeling en is fundamenteel tot ons visie en missie. Alhoewel individue volgens ’n groot verskeidenheid waardes hul lewens inrig het Bergsig vier kernwaardes geïdentifiseer:
Dankbaar, Deernis, Respek, Diens

Na die Stellenbosch leiers-wegbreek in Aug. 2012 is die scenariobeplanning in Nov. 2012 gedoen en strategiese doelwitte is in Jan. 2013 hersien. Daar is nou een oorhoofse strategiese doelwit:
Dissipels van Jesus is vir die tydperk 2013 – 2015 geïdentifiseer. Die doelwit is tweeledig nl. dissipelskap en nuwe bekeerlinge / redding van mense.

Tans is ’n volledige proses besig om ontwikkel te word wat hierdie doelwit ondersteun.

Ons is gereed om DIENS te lewer, verder te saai en die oes in te bring. Mag Sy ligdraers die vrug in ander ontsluit.

Storiebord week 1 met woorde
Storiebord week 2 met woorde Storiebord week 3 met woorde
Storiebord week 4 met woorde