Wie is ons

Durbanville Bergsig - Ons is Sy ligdraers

Visie

“Bergsig verheerlik Jesus Christus, die Lig vir die wêreld”


Missie

Ons is Sy Ligdraers wat:

  • Eensgesind is in geloof en aanbidding
  • In liefde omsien na die welsyn van ons naaste
  • Volhard in die uitdra van die Evangelie van Hoop.

Kernwaardes

DANKBAAR
Ek is lief vir God en sy Woord en bid tot Hom
DEERNIS
Ek wys belangstelling in mense se lief en leed
Ek vertroos en bemoedig mense in krisistye
Ek het ‘n sagte plek vir God se skepping
Ek is nie veroordelend teenoor ander
DIENS
Ek leef ruimhartig – ek stel my tyd, gawes, geld en besittings beskikbaar vir God en my medemens
RESPEK
Ek onderwerp my aan die gesag van God en sy Woord
Ek is beleefd en vriendelik teenoor my medemens
Ek het ‘n oor vir my medemens – ek luister na hom


Tydens ‘n spesiale Ringsitting, gehou op 20 Januarie 1982, is die afstigting van Durbanville-Bergsig deur die Ring goedgekeur nadat alle motiverende dokumente ter tafel gelê, in behandeling geneem en deur die Ring goedgekeur is. Die finale afstigting (van Durbanville Moedergemeente af) het op die aand van 10 Februarie 1982 tydens ‘n spesiale kerkraadsvergadering plaasgevind.

Intussen het die vergaderings in die skoolsaal van die Voorbereidingskool plaasgevind en het die beplanning vir die bou van ‘n kerksentrum begin.

Op Vrydagaand, 15 November 1985 het die inwyding van die nuwe kerksentrum om 19:00 plaasgevind. Ds. M.R. Heyns was die eerste dominee van die nuutgestigde gemeente.


Interessante staaltjies:

SOOISPIT-PLEGTIGHEID:
Die sooispitplegtigheid was ‘n vreugdevolle geleentheid vir die gemeentelede.

Gedurende die voorafgaande week is asem opgehou vir die sukses daarvan omdat dit die hele week hard en aanhoudend gereën het. Op Sondag, 5 Augustus 1984 het die weer egter saamgespeel en nadat die gemeente die oggenddiens in die skoolsaal bygewoon het, is hulle na die kerkterrein vir die sooispitgeleentheid.
ORREL:
Die orrelkommissie het ondersoeke gedoen na die aankoop en installering van ‘n kerkorrel vir die kerkgebou.Tydens die kerkraadsvergadering van 22 November 1983 neem die vergadering daarvan kennis dat ’n tweedehandse pyporrel in Nederland “nog te koop is”. Hulle het na die klank van ‘n rekenaarorrel gaan luister by die Kenridge kerkgebou om die verskil in klank tussen ‘n pyporrel en ‘n rekenaar- of elketroniese orrel vir die kerksentrum te vergelyk. Dit is as “werklik onbeduidend” ervaar. Daar is uiteindelik besluit om ‘n rekenaarorrel teen R38 500-00 aan te beveel.

Alhoewel die orrel vroegtydig bestel is, is die boot wat die orrel van Amerika moes verskeep, vertraag. Sodat daar ‘n orrel tydens die inwyding van die kerksentrum sou wees, is ‘n ander orrel per vliegtuig gestuur.

Met die inbou van die orrel is ontdek dat die deur en die gang na die gallery te nou was vir die orrel. Dié meer as 400 kilogram orrel moes toe na die gallery toe opgehys word vir die installering… nét betyds vir die inwydingsplegtigheid.

Bron:
Liefde vir Liggee 1982 – 2007 (Die storie van NGK Durbanville-Bergsig. Janlu Kuyler).