Kinders wat bedel

Kinders wat bedel

Navorsing bewys dit: Dit is ons en die publiek wat die straatkinders in stand hou. Dit is ‘n hele ketting van afhanklikheid (en selfs misdaad) wat so geskep en onderhou word. Luister hoe beskryf ‘n wel menende, besorgde lidmaat, diep by hierdie jammerlike toestand betrokke, hierdie toestand:

Vir sommige kinders en hul ouers in die plakkerskampe is skoolvakansies ‘n RAMP!  Gedurende die kwartaal kry ‘n mens van die kinders (gewoonlik seuns) redelik ‘afgeleer’ om te bedel (hulle noem dit ‘skarrel’). Een ouma het al gesê sy wens skoolvakansies word afgestel! Elke skoolvakansie verdwyn hierdie kinders en leef op die strate om te bedel. Hulle kom selde huis toe, want dan weet hulle sal hul ouers of grootouers hulle probeer dwing om by die huis te bly. Hul ouers is bekommerd en soek na hulle, maar gewoonlik sonder sukses. Die kinders van Wallacedene skarrel veral in Brackenfell, Cape Gate en Kaapstad. Hul glip op die treine. Hulle word baie vuil, want hul was hulself nooit gedurende hierdie tyd nie.

Die probleem is dat wanneer die skole heropen wil sommige van hulle nie teruggaan skool toe nie. Daar is ‘n paar seuns wat nog nie sedert die Maart skoolvakansie teruggegaan het huis toe en natuurlik ook nie skool toe nie! Teen hierdie tyd is hul al almal geskors en is dit baie moeilik om die skole te oortuig om hul terug te neem, wat hulle is nou baie agter by die ander kinders.

Daar is van die kinders wat wel die skool sommige dae bywoon, maar dan skarrel hul namiddae en saans. Hulle doen dus nooit middae hul skoolwerk nie, kry baie min slaap en kan nie die volgende dag konsentreer nie.

Die kinders skarrel gewoonlik in groepe. Daar is gewoonlik een of twee groter kinders wat die leier(s) van die ‘trop’ is. Een of twee kleiner kinders word geslaan om saam te gaan en namens die groep te skarrel. Hul het al hierdie kleintjies se klere geskeur, sodat hul meer geld kan kry. Die res kruip daar naby weg. Aan die einde word al die geld tussen almal verdeel. As die kleintjie nie genoeg geld ‘ingevorder’ het nie, kry hy weer pak. Hul kry gemiddeld R50 per kind per dag. Watter ouer in die plakkerskamp kan soveel sakgeld vir ’n kind gee! Die kinders word dus ‘vasgevang’ aan die luukse van so baie geld. Hulle gebruik die geld om ure in plekke met speletjie-masjiene te speel.

Die ouers is baie bekommerd oor hierdie kinders. Een ma het my laas Vrydagaand 23:00 gebel om te sê haar seuntjie (Graad 1) het nog nie huis toe gekom na skool nie, en sy kan hom nie in die hande kry nie. Hy is een van die kleiner kinders wat deur die grotes gedwing word om vir hul te skarrel. As so ’n kind gekry word, is sy skoolklere en rugsak gewoonlik weg. Hierdie kind het 2 weke gelede nuwe skoolskoene en ’n rugsak gekry. ’n Ouma moes al doktersbehandeling kry as gevolg van bekommernis oor haar kleinkind wat weke aaneen nie huis toe kom nie. Hul vertel gewoonlik in trane hoe hulle hul bekommer oor die kinders. Onthou hierdie mense het nie motors om na die kinders te soek nie. Hul soek hul te voet en hoor net altyd, die kind was hier, maar is nou weer weg. Verder hardloop die kinders weg, as hulle hul ouers sien.

Ek weet van laerskool dogters wat voorskoolse dogtertjies gedwing het om saans saam met hulle Cape Gate toe te gaan. Daar word hulle in die parkeergarage deur mans verkrag en die groter kinders kry die geld. Die kinders wat misbruik word, word deur die groter kinders gedreig om stil te bly.

Ons mense, alle mense, se oë moet oopgaan: As jy hierdie kinders ondersteun, maak jy ‘n belegging dat die kind ONGESKOOL en ONOPGEVOED grootword. Jy maak ‘n bydrae dat die kind vuil rondloop, nie skool bywoon nie, rook en op straat slaap. Een ouma vertel dat sy gewoonlik die kind se klere moet weggooi as hy weer huis toe kom, want dan is dit vol luise. Elke bydrae, hoe klein ook al, laat die kind voel dis die moeite werd om NIE te luister en by die huis te bly nie. ‘n Vriendin het verlede jaar in Brackenfell, op pad winkel toe, ‘n kind op ‘n straathoek gesien bedel. Sy koop toe vir hom ‘n pastei en gee dit vir hom toe sy huis toe gaan. Hy het die pastei voor haar op die grond gegooi en gesê dat hy geld wil hê! Die kinders koop NIE kos van die geld nie. Hulle sal soms lekkers en skyfies koop as hul te honger word.

Daar is mense wat hierdie kinders snags slaapplek gee teen ‘n fooi. Die kinders kan dus maar enige tyd van die nag daarheen gaan. Sulke mense moedig die kinders dus eintlik aan om te skarrel sodat hulself geld maak daaruit.

Alle kinders op straat wat bedel kan op grond van die nuwe kinderwet hof toe geneem word. Wat egter ook waar is, is dat sulke kinders dan iewers op ‘n plek gehou moet word om hulle deur die hofprosedures te neem. Maar, die kapasiteit om hierdie dringende, noodsaaklike reddingswerk te doen, ontbreek. Daarom laat die polisie hierdie kinders begaan. No Limits, ‘n program van BADISA, wat ongelukkig so pas moes toemaak weens ’n gebrek aan fondse, was konstruktief betrokke by pogings om hierdie kinders van hierdie bedel-verslawing te verlos. Dwelms speel ‘n bepalende rol in hierdie ketting van ellende. Hierdie program se werk is nou aan ander bestaande programme oorgegee om verder te neem. Ons sal beter doen om liewer kontak te maak by ons plaaslike BADISA-program en daar te gee en te ondersteun, sodat hierdie komplekse maatskaplike ramp konstruktief aangespreek kan word.

Intussen, as ons geld by die verkeerslig gee, bou ons saam aan hierdie bedelkultuur.

Ben du Toit