My lyf bepaal my geluk

My lyf bepaal my geluk

Ek voel deesdae altyd op die randjie van ontplof – erg gestres en asof die beheer wat ek het, net bolangs is. Ek het twee kinders, ’n voldag-pos en ’n man wat net so hard werk. Soms voel ek verskeur tussen alles en almal, met geen tyd vir myself.

My lyf bepaal my geluk –  SARIE – Maart 2009

Probleem: Ek voel deesdae altyd op die randjie van ontplof – erg gestres en asof die beheer wat ek het, net bolangs is. Ek het twee kinders, ’n voldag-pos en ’n man wat net so hard werk. Soms voel ek verskeur tussen alles en almal, met geen tyd vir myself.

Dr. ST Potgieter, sielkundige van Bellville:
Daar is te veel tekens dat stres die oorhand kry in jou lewe: Jy is heeltyd onder druk om aan verwagtings te voldoen en te presteer. Jy voel oorweldig deur die eise wat jou man, kinders, huis en beroep aan jou stel. Jy het nie genoeLyfg tyd en energie vir al jou verantwoordelikhede nie. Dit lei tot frustrasie en irritasie, en saam met die magteloosheid wat jy voel, kan dit negatiewe gevolge hê, soos depressie, uitbranding en fisieke simptome soos maagsere. Of emosionele ontploffings of woede-uitbarstings.

Dikwels skaad erge spanning en ’n oorval program die belangrike verhoudings in jou lewe. Jy sal moet prioritiseer – wat is vir jou belangrik? Sorg vir genoeg ontspanning en rus, delegeer take en rig tydjies vir jouself in. Kortom: Kweek ’n gebalanseerde en gesonde leefwyse aan. Dis ook belangrik dat jy leer hóé om stres op ’n emosionele vlak te hanteer.

Wees in voeling met jou emosies, deel dit met die belangrike mense in jou lewe en soek saam oplossings.
Maak tyd om met jou man te gesels oor hoe jy voel. As jy oormoeg en oorwerk is, is dit soms moeilik om rasioneel op te tree – en dan huiwer jy dalk op die rand van ’n emosionele afgrond. ’n Berader kan ook perspektief bring.

Taryn Sydow, Leefstyl-afrigter van Gauteng:
Balans gaan nie oor hoe jy jou tyd bestuur nie. Dis om dit wat jy doen, in pas te kry met wie jy is. Dán sal jy vervuld en energiek voel. Kyk na jou behoeftes, waarde en talente.

Skrywer Anthony Robbins sê elke mens het ses basiese behoeftes: aan sekerheid, verskeidenheid, groei, liefde/verbintenis, ’n betekenisvolle lewe, en om iets by te dra. As daar aan jou behoeftes voldoen word, voel jy energiek en tevrede. Indien nie, voel jy gedreineer en geïrriteerd. Dis waar ’n deel van jou woede en frustrasie vandaan kom.

Jou waardes is dit wat belangrik is in jou lewe en wat jou gedrag bepaal. Wat is jou persoonlike waardes? As jou keuses en jou leefwyse hiermee strook, sal jy waarskynlik meer in balans voel.

Jou talente is dié dinge wat “maklik” kom en wat jy só geniet dat jy byna tred verloor met tyd as jy daarmee besig is. Gebruik jy jou talente in minstens 80% van wat jy doen? As jy dinge doen waarvan jy hou, dreineer dit jou nie. As jy glo jy is “buite beheer”, bepaal dit juis hoe jy elke dag ervaar.

Doen selfondersoek: Sorg dat wat jy doen en hoe jy dit doen, strook met wie jy is. Jy is dan steeds besig, maar jy sal meer energie hê en meer vervuld voel.  (Lees ook my boek Putting the Pebbles in First, Optimal Publishing, 2008.)

Dr. Judy Jaye, Bestuurder: opleidingsontwikkeling by The Stress Clinic, Johannesburg:
’n Groot stressor in jou lewe is dat jy beheer oor jou tyd verloor het. Jy voel jy het nie tyd nie. Maar prioritiseer: Jy kan nie alles gelyk doen nie. Maak ’n lys van take (tot die kleinste) en rangskik dit in vyf afdelings: Die moet-take is nie-onderhandelbaar, belangrik en dringend – take met erge gevolge as jy dit nie doen nie (soos ’n dringende verslag of kos vir die huis).

Die behoort te doen-take is belangrik, maar nie dringend nie. (Soos nuwe skoolklere en die voorlegging oor vier weke. Moenie dit los tot op die nipper nie. Beplan.)

Die hou van-take is onbelangrik, maar jy geniet dit. Jy begin dalk vervaard kook ’n halfuur voor die gaste kom – maar bestee ure aan jou tafelversiering. Moenie dié take eerste doen nie.  Delegeer-take het nie jou vaardighede nodig nie. Jy hoef nie supervrou te wees nie. Onthou: Wees baie spesifiek oor wat jy verwag en wanneer, anders stres jy steeds.

Elimineer take wat vir jou niks beteken nie en wat jou groei belemmer. Tik elke dag af wat gedoen is en voeg nuwe take by. Só beheer jy jou tyd, en die frustrasie sal verdwyn.

As jy steeds gespanne is, is daar dalk ’n ander onderliggende probleem – kontak dan The Stress Clinic.

KONTAK • ST Potgieter by  021 949 5007, e-pos: [email protected]