Ongelukkigheid met lyf

Ongelukkigheid met lyf

Ek en my vriendin kla nou die dag oor ons vetrolletjies – en toe besef ons dié gesprek het ons 20 jaar gelede ook gehad! Boonop was ons toe albei ’n goeie 6, 7 kg ligter.  As ek op die skaal klim en ek weeg ’n kilogram ligter, voel ek sommer beter oor myself – en die teenoorgestelde as ek gewig aangesit het.

Kortom: My gewig bepaal my geluk. Ek is andersins suksesvol. My man sê ek is laf, hy is lief vir my nes ek is. Maar ek besef ék is nie.

SARIE – Januarie 2009
Hoekom kan ek ná al die jare steeds nie my ongelukkigheid oor my liggaam hanteer nie?

PROBLEEM
Ek en my vriendin kla nou die dag oor ons vetrolletjies – en toe besef ons dié gesprek het ons 20 jaar gelede ook gehad! Boonop was ons toe albei ’n goeie 6, 7 kg ligter.  As ek op die skaal klim en ek weeg ’n kilogram ligter, voel ek sommer beter oor myself – en die teenoorgestelde as ek gewig aangesit het.

Kortom: My gewig bepaal my geluk. Ek is andersins suksesvol. My man sê ek is laf, hy is lief vir my nes ek is. Maar ek besef ék is nie.

Jo-Lynne du Randt kliniese sielkundige van Kenridge, Bellville, antwoord:

Dis nie maklik om sulke ou denkpatrone en oortuigings af te skud nie – dit is jou hele lewe lank al deel van jou en word vasgelê as onbewuste gewoontes. Maar dis reeds ’n positiewe stap dat jy besef iets buite jouself (bv. ‘n syfer op ‘n skaal) bepaal jou geluk en dat jy weet jy moet leer om jouself te aanvaar. In dié stadium is jou geluk steeds voorwaardelik, in die trant van: “As ek net my ideale gewig bereik, of die huis op die bult besit, of getroud is, sal ek gelukkig of tevrede wees.”

Dit werk soms, maar dié soort geluk is van korte duur, want sodra jy dit bereik, skuif die pot goud aan die punt van die reënboog elders heen, agter die volgende ideaal aan. Geluk en ’n positiewe selfbeeld bly jou ontwyk.

Baie mense werk so agterstevoor om: Hulle sit alles in om te kry wat hulle wil hê, sodat hulle dán gelukkig kan wees. Maar jy moet éérs gelukkig wees met wie jy is en dan doen wat jy moet om te kry wat jy wil hê.

Moenie toelaat dat die skaal beheer hoe jy die res van die dag oor jouself dink nie.
Hou op fokus op die gebreke. Begin ’n daaglikse joernaal van alles waarvoor jy dankbaar is – fokus veral op jou gesondheid. Wat is goed en reg? Raak bewus van jou gedagtes en hou boek van wat jy van jouself sê, veral as dit by die skaal of kos kom. Vra jou vriendin en jou man om deel te wees van jou span en jou daarop te wys as jy negatief oor jouself is sonder dat jy dit eens agterkom.

Neem die beheer van jou geluk terug.

Verban die skaal en bedink maniere hoe jy jouself kan laat goed voel. Maak tyd vir en bederf jouself, leef jou kreatiwiteit uit en gee erkenning aan jouself as jy positiewe doelwitte vir die dag bereik het. ’n Gesonde selfbeeld gaan nie oor hoeveel jy weeg nie, maar oor jou ingesteldheid en wie jy is. Jou identiteit en jou selfwaarde word nooit bepaal deur iets buite jouself nie.

Dink na oor die verskil tussen selfbeeld en selfwaarde. ’n R100-noot kan vuil, gevou en verrinneweer wees, maar dis steeds R100 werd. Sy beeld bepaal nie sy waarde nie. Mense interpreteer die term “persoonlike grense” as selfgeldend, om nee te kan sê en jouself te beskerm met: “Ek sal dit nie toelaat nie.”Lyf
Dis maar net ’n deel daarvan. Jy moet ook ’n innerlike stel reëls vir jouself hê. Kyk na bv. na die Bybelse opdrag jy moet jou naaste liefhê . . . soos jouself. Die meeste mense het die eerste deel onder die knie, maar die (belangrikste!) tweede deel word misverstaan of selfs geïgnoreer.

Dink na oor die rolle in jou lewe.

Jy is ’n goeie vriendin, ’n goeie lewensmaat, dalk ’n goeie ma/dogter/sakevrou. In hierdie rolle het jy jou eie reëls. Hoe is jy ’n goeie vriendin/lewensmaat/ma/dogter vir iemand? Hoe is ’n mens as jy ’n goeie naaste is? Is jy dit vir jouself? Is jy ’n goeie vriendin vir jouself? Is jy ’n goeie lewensmaat/versorger vir jouself? Doen jy vir jouself wat jy vir ander doen met dieselfde geduld, liefde en deernis? Jy moet!

Net soos die water nie vinniger sal kook as jy na die ketel staan en kyk nie, so is dit ook met gewig.
As jy sorg vir balans in jou lewe, mooi na jouself omsien, jouself aanvaar en gelukkig is – sal jou gewig na homself omsien. Sluit ’n kontrak met jouself en betrek ’n sielkundige om jou te help om die patrone raak te sien en te verander. Dit ís moontlik. So iemand kan jou aanspreeklik hou as jy jou belofte aan jouself nie nakom nie, en dis ook ’n duidelike boodskap aan jouself: Ek is belangrik genoeg om in te belê.

Jo-Lynne du Randt,
[email protected],               082 823 8482

Met erkenning aan die SARIE tydskrif.