Standpunt oor Belhar

Standpunt oor Belhar

Dit is altyd goed om te hoor hoe gemeentes op plaaslike vlak die Belydenis van Belhar hanteer. Sien in hierdie verband die proses waardeur die NG Gemeente Durbanville-Bergsig gegaan het.

Amptelike Standpunt – Belhar-belydenis

September 2009

Agtergrond:

Die NG Gemeente Durbanville-Bergsig is sedert November 2007 in gesprek met die VG Gemeente Durbanville oor kerkhereniging en ’n gesamentlike eenwordingsdoelwit in die toekoms.

Binne hierdie konteks en teen die agtergrond van die feit dat die VGK die Belhar-belydenis sedert 1986 as vierde amptelike belydenisskrif aanvaar het, het die Kerkraad van Durbanville-Bergsig besluit om die Belhar-belydenis in behandeling te neem en ’n amptelike standpunt daaroor, namens die gemeente, in te neem.

Vertroudmakingsproses:

Die volgende geleenthede was sedert Februarie 2009 tot Augustus 2009 aan Bergsig-gemeentelede gebied om hulle volledig op die hoogte met die Belhar-belydenis te stel, nl.

Prof. Dirkie Smit het die agtergrond, konteks, inhoud en belangrikheid  van  gemelde belydenisskrif met die kerkraadslede en ander leiers van die gemeente op Saterdag, 14 Februarie 2009 behandel en vrae beantwoord.

Dit was opgevolg met die verspreiding van afdrukke  van die Belhar-belydenis aan gemeentelede tydens beide eredienste op Sondag, 1 Maart en Sondag, 22 April, met die versoek dat almal hulle met die inhoud daarvan vertroud maak en dat enige kommentaar en vrae daaroor skriftelik aan die gemeente gerig word.

Prof. Dirkie Smit was weer genooi om die twee oggenddienste op Sondag 22 April 2009 in Bergsig waar te neem, waartydens sy boodskap die inhoud van die belydenis uit die Skrif saamgevat en dit in breë konteks geplaas het.

‘n Verdere inligtingsessie oor en bespreking van die Belhar-belydenis  is vir gemeentelede aangebied op Sondagaand, 24 Mei 2009, ter uitklaring van verdere  vrae en onsekerhede rondom die belydenisskrif.

Dit is opgevolg deur ’n aanbieding aan en bespreking deur die Kerkraad van die Belhar-belydenis op Maandagaand, 17 Augustus 2009.

Bevinding en gevolgtrekking:

Groot begrip word deur Bergsig-gemeentelede getoon vir die Belhar-belydenis.
Slegs enkele Bergsig-lidmate het met ernstige skriftelike bedenkinge oor die Belhar-belydenis na vore gekom, wat by wyse van persoonlike gesprekvoering met die betrokke individue opgeneem en in behoorlike perspektief geplaas is.
Die Belhar-belydenis slaag die toets as ’n onaanvegbare  Skrifgefundeerde belydenisskrif wat die Drie Formuliere van Eenheid op ’n unieke wyse aanvul.

Aanbeveling:

Die Kerkraad van die NG Gemeente Durbanville-Bergsig spreek hom as volg  uit, namens die gemeente oor die Belhar-belydenis,  nl.

Dat die NG Gemeente Durbanville-Bergsig die Belhar-belydenis as ’n behoorlike Skrifgefundeerde Belydenisskrif erken en aanvaar;
Dat die NG Gemeente Durbanville-Bergsig aanbeveel dat die Algemene Sinode van die NG Kerk die Belhar-belydenis amptelik as vierde Belydenisskrif van die NGK aanvaar.

Hierdie voorstel het op Maandag, 21 September 2009 voor die Kerkraad gedien en is so deur die Kerkraad aanvaar.

Die pad vorentoe:

Die Algemene Sinode van die NG Kerk is die beleidmakende sinode van die NG Kerk en dus ook die enigste sinode wat kan bepaal wat die leer en belydenisgrondslag van die kerk moet wees.  Bogenoemde voorstel sal dus nou deurgestuur word aan die Algemene Sinode wat weer in 2011 in sitting is.  (Daar is nog ander gemeentes sowel as ander kerklike liggame wat soortgelyke voorstelle aan die Algemene Sinode gestuur het.)

Die Algemene Sinode sal waarskynlik eers al die gemeentes van die NG Kerk toets en raadpleeg voordat Belhar as ’n vierde belydenisskrif van die kerk aanvaar word (of nie aanvaar word nie.)

Die besluit van die kerkraad van Bergsig beteken dus nie dat ons nou ’n vierde belydenisskrif het nie.

Hierdie besluit berus by die Algemene Sinode.

Dit beteken net dat die kerkraad sê dit is ’n Skriftuurlike belydenis en dat die Algemene Sinode dit moet oorweeg om dit deel van die belydenisskat van die kerk te maak.

Indien u meer oor hierdie saak wil weet of met iemand wou gesels of dalk met iemand sou wou saam bid, kan u gerus die kerkkantoor of enige van die predikante kontak.