Wat wil die jong SA man hê?

Wat wil die jong SA man hê?

Amper die helfte van Suid-Afrikaanse mans het ’n moderne uitkyk en is in beheer van hul lewe en verantwoordelikhede. Alhoewel mans al hoe later trou glo die meerderheid dat, wanneer dié besluit gemaak is en kinders op die toneel verskyn, dit belangrik is om ’n goeie verhouding met sy kinders te hê.

Nuwe navorsing het vier soorte mans geïdentifiseer en uitgevind hoe hulle oor sekere belangrike lewensaspekte voel. Hier is ’n paar hoogtepunte.

Wat wil die jong SA man hê?

10/03/2009 07:25:46 PM – (SA)
Die Burger : Leefstyl

Nuwe navorsing het vier soorte mans geïdentifiseer en uitgevind hoe hulle oor sekere belangrike lewensaspekte voel. Hier is ’n paar hoogtepunte.

Hulle moet vir hul gesin voorsien, maar ook help om hul kinders groot te maak. Hulle moet omgee hoe hulle lyk, maar s

teeds manlik wees.

Jong mans se lewe was nog nooit vantevore so ingewikkeld nie en hulle is onder toenemende druk om hul veranderende rolle te hanteer.

Dit was die bevinding van ’n reuse-navorsingsprojek onder jong mans tussen 25 en 39 jaar oud.

Discovery Networks (wat die Discovery Channel bestuur) het die projek van stapel gestuur om vas te stel hoe om dié groep mans, hul teikenmark, beter te bereik, het me. Claire O’Connor, direkteur van navorsing vir Oos- en Suid-Europa, die Midde-Ooste en Afrika by Discovery Networks, gesê.

O’Connor het die navorsingsverslag, “Species: A user’s guide to young men”, onlangs aan die Suid-Afrikaanse media bekend gestel.

Meer as 12 mans in dié ouderdomsgroep in 15 lande (Suid-Afrika, Brittanje, Denemarke, Duitsland, Frankryk, Hongarye, Italië, Nederland, Noorweë, Pole, Roemenië, Rusland, Spanje, Swede, Turkye) was deel van die projek.

Hulle het onder meer leefstyldagboeke voltooi en daar is telefoniese en in-diepte-onderhoude tuis gevoer.

Meer as 50 kenners, onder andere akademici, ekonome, joernaliste en sosiale kommentators, is ook geraadpleeg.

IN SUID-AFRIKA

Jong mans in Suid-Afrika pas goed by die talle uitdagings van die moderne samelewing aan, het die navorsers bevind. Hulle het onderhoude met 600 mans in Suid-Afrika gevoer en die meeste was nie DStv-intekenare nie, het O’Connor gesê.

Van die belangrikste neigings onder jong Suid-Afrikaanse mans is:
35% wil ’n huwelik en kinders so lank moontlik uitstel.Jongmans
48% voel onder druk om soveel verskillende dinge moontlik te doen.
65% sê hul innerlike tevredenheid het niks te doen met hoeveel geld hulle het nie.
72% glo hulle kan ’n kind net so goed grootmaak as ’n vrou. Driekwart sê wat hulle die graagste in die lewe wil hê, is om kinders te hê en groot te maak.
63% bekommer hulle dikwels oor hul gesondheid.
Altesame 74% sê fiksheid is vir hulle ’n prioriteit.

VOLWASSENHEID

Jong mans stel toenemend die tradisionele mylpale van manlikheid uit, soos om ’n huis te koop, te trou en kinders te hê. Verantwoordelikheid is onvermydelik, maar al hoe meer jong mans kies wanneer hulle dit opneem.

Baie kies om die mylpale uit te stel omdat minder geldelike verpligtinge vryheid en meer speelgeld beteken.

VERHOUDINGS

Groter gelykheid tussen mans en vroue beteken verhoudings tussen hulle was nog nooit so ingewikkeld nie.

Meer onderhandeling is nodig en meer onderwerpe is oop vir onderhandeling. Vroue is geldelik meer onafhanklik en vir mans én vroue word hul keuse van maats minder deur faktore soos geld of hul familie voorgeskryf.

Huwelike word eerder ’n romantiese keuse en gevolglik het verwagtinge van verhoudings gestyg. Jong mans wil beter verstaan word en jong vroue wil meer emosionele betrokkenheid hê. Jong mans probeer ’n balans vind tussen tradisioneel manlike rolle en modernes.

VOORKOMS

Jong mans spandeer meer tyd en geld aan hul voorkoms. Hulle weet dit kan voordelig wees vir hul loopbane en hul liefdeslewe, aangesien vroue se verwagtinge deesdae hoër is.

Hulle is selfbewus oor hul lywe en voorkoms omdat die media hulle bombardeer met geïdealiseerde beelde van mans.

Dit is vir hulle belangrik om nie ydel voor te kom nie, want dit is nie manlik nie. As hulle omgee oor hul voorkoms, sal hulle dit nie wys nie.

WERK

Hoewel jong mans steeds die druk voel om te werk om vir hul gesinne te voorsien, soek hulle ook persoonlike vervulling. Die druk om dié twee strewes te vervul, is erg.

Aangesien net vroue kinders kan baar, vervul mans steeds die hoofrol as voorsiener, maar ekonomiese omstandighede maak dit moeiliker om werk te kry en te behou.

Werk bly die hoofbron van manlike identiteit en ’n man wat nie geld huis toe bring nie, kan voel hy het as man misluk.

VADERSKAP

Jong mans stel vaderskap uit, maar nie omdat hulle nie kinders wil hê nie. Hulle wil dit net reg doen.

Dit is vir hulle belangrik om vir hul kinders te voorsien en ook om betrokke te wees by hul kinders. Werk en die behoefte om te voorsien kan egter ’n hindernis wees in die pad van meer betrokkenheid. Die gaping tussen mans wat sê hulle wil meer tyd saam met hul kinders deurbring en wat hulle wel doen, is omstrede.

Van die kenners meen die verandering in mans se houding is op hulle afgedwing eerder as hul keuse.

Ander kenners glo mans het wel hul houding teenoor vaderskap verander.

VIER SOORTE MANS

Voorsiener onder druk
’n Tradisionele gesinsman met ’n konserwatiewe beskouing van sy rol in die gesin en samelewing.
Hy is minder in staat om al die druk van die moderne samelewing te hanteer. Hy wil graag die volmaakte pa wees, maar kry dit nie altyd reg nie. Hy glo die vrou se plek is by die huis.
Algeheel 26%
Suid-Afrika 17%

Modern en in beheer
’n Man met ’n moderne beskouing van geslagsrolle en wat in staat is om talle verpligtinge te balanseer.Hy is onder druk om alles te doen, maar hanteer dit goed. Hy is trots om ’n pa te wees en het ’n emosionele band met sy kinders. Sy vriende is vir hom belangrik. Hy voel hy het nie genoeg tyd vir homself nie.
Algeheel 34%
Suid-Afrika 45%

Als oor my
’n Jong man wat homself belangriker as sy verhoudings ag en minder familievas is. Hy wil die middelpunt van aandag wees. Sy vriende is vir hom baie belangrik. Sy werk is ook vir hom belangrik, maar hy wil werk doen wat hy geniet.
Algeheel 26%
Suid-Afrika 14%

Onverbonde
’n Jong man wat vir elke dag leef en wegskram van ernstige verbintenisse of verantwoordelikheid. Hy sal heel moontlik nie by politiek betrokke raak nie.
Algeheel 14%
Suid-Afrika 24%

Vind uit watter soort man jy is deur die kort vasvra op www.discovery­species.com te doen. Hier kan jy ook meer oor die navorsing uitvind en die navorsers kontak.

Met erkenning aan Die Burger Koerant.